
Foto’s Francois Oberholster, Karl Rogers, Greg Cox, Elza Cooper en Warren Heath/Bureaux | Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt
Hanglampe van Eagle Lighting; rooi buitemat van Fibre Designs; geel plantpotte van The Gatehouse at Mavromac; eetkamertafel van Block & Chisel; eetkamerstoele van Chair Crazy
Die reënboog om jou tafel
In die binne-buite-leefarea by hierdie huis in Bishopscourt, Kaapstad, het die binneontwerper Kim Stephen meubels en bykomstighede ingespan om kleur by die andersins monochroom palet te voeg. Dié spatsels kleur bring pret en balans na die sterk argitektoniese elemente wat Kim beskryf as “Georgiaanse lyne met ’n moderne kinkel”. Die apploustrekker is ’n bonte versameling Eames-replikastoele om die eetkamertafel!
Ottoman-koffietafel pasgemaak deur Changing Spaces
Meng en pas
Cheryl Herweg van die binneontwerpsaak Changing Spaces het dié L-vormige rusbank spesiaal vir ’n kliënt se huis in Blouberg, Kaapstad, gemaak. Dit bestaan uit vyf aparte sitplekke wat soos nodig rondgeskuif kan word. Omdat die mure neutraal is, het Cheryl besluit om kleur in te bring deur elke sitplek in ’n ander kleur te stoffeer. Strooikussings met motiewe in die bank se verskillende kleure rond die voorkoms af.
Alles by-saak
Die kinders se badkamer in die Boshoffs se huis op Somerset-Wes was eenvoudig, met witgeverfde mure en wit teëls. Maar ma Kylie wou dit ’n speelse inspuiting gee. Toe kies sy seshoekige spieëls en titsels geel in die vorm van 12 x 12 cm-teëls (uitgesoek deur Not Just Tiles) vir ’n speelse byetema.
“Dit gee ’n opgewektheid en ’n element van pret aan die vertrek,” verduidelik Kylie.
Groen oplossing
Belinda en Gareth Mountain van Nuweland, Kaapstad, het ’n bekostigbare regrukprojek aangepak in hul kinders se badkamer (wat gaste ook gebruik). Die mure en vloer was bedek met outydse grys-en-wit patroonteëls, maar Belinda was lus vir ’n “oerwoud-gevoel” vir die ruimte. Sy het besef dit sou dalk te donker wees om die mure heeltemal groen te verf, en het by Nowadays Interiors gaan raad vra. Uiteindelik het sy op ’n kleurblok-effek in groen (Plascon Conifer) en wit (Plascon Kitchens & Bathrooms) besluit.
Voordat die paartjie die mure geverf het, is dit voorberei met Plascon Tile & Melamine Primer. Die vloerteëls is bedek met swart-en-wit viniel in ’n diamantpatroon van Smart Art.
In die agtergrond ...
Die Tuis-medewerker en stilis Amanda van Wyngaardt wou aanvanklik ’n grys fokusmuur in die dubbelvolume-eetkamer in haar Randburgse huis hê. “Maar op die ou end het dit te somber gelyk; toe verf ek die muur wit, met net een grys strook vir interessantheid en as agtergrond vir ’n kunswerk,” sê sy.
Amanda het die strook met maskeer-band afgebaken en het van die verf met water verdun om ’n ombree-effek met ’n verfroller te bewerkstellig. Die kunswerk op seildoek is ook Amanda se handewerk – dis ’n houtskooltekening van Leonardo da Vinci se Dame met ’n hermelyn.
- Block & Chisel 021 691 0878
- Ceramica Cleopatra 021 683 7140
- Chair Crazy 021 552 2674
- Changing Spaces 083 458 8877
- Eagle Lighting 021 424 4071
- Fibre Designs 021 418 1054
- Not Just Tiles 083 297 3717
- Nowadays Interiors 083 234 0765
- Smart Art 021 447 0872
- The Gatehouse at Mavromac 021 797 4739