book-icon Uitgawe Januarie 2019

Vars idees vir ’n nuwe baadjie

akkreditasie
Skep ’n vars, nuwe voorkoms met pastelkleur verf, tropiese plakpapier of mooi lap.

Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper Stilering Amanda van Wyngaardt en Marian van Wyk

Kleurinspuiting

Toe ons Bryony Webster en Johnny Scholtz se Melville-huis in die Junie 2018-uitgawe wys, was die kombuiskaste naaswit. Nie lank daarna nie het Bryony ingespring en die lot opgedollie met pastelkleure – en kyk net hoe mooi lyk dit nou! Binne drie dae het die paartjie met net ’n paar lae verf die kombuis ’n splinternuwe voorkoms gegee. Bryony het ’n foto van ’n 1960’s-kombuis aanlyn gesien en dit as inspirasie gebruik.

“My gaste is óf mal oor die kassies óf hulle dink dis ’n bietjie te veel. Maar die meeste hou daarvan,” sê sy. “Ek’s ’n maksimalis en snuffel graag by tweedehandswinkels, so ek maak altyd mooigoed bymekaar wat ek by my huis kan inspan.” Bryony het ’n digitale model van die vertrek gemaak om te beplan watter kleure sy waar sal gebruik voor hulle begin verf het – en die resultaat spreek vanself.

Tafel en stoele gevind op olx.co.za; matte en bakke van furbelowshop.com (Bryony se aanlynwinkel); teestel van Poetry

Vir soortgelyke kleure, probeer:

Dulux Amethyst Falls 2

Dulux Sweet Sundae 5

Dulux Javan Dawn 2

Dulux Ruby Fountain 5

Diereryk

Met Ivy se speelkamer wou Tammy seker maak die vertrek kan maklik in ’n babakamer omskep word as daar ’n nuweling bykom. Nadat sy aanlyn rondgesoek het vir idees, het sy besluit op ’n Shutterstock-foto van ’n wêreldkaart met prente van die diere wat in al die verskillende gebiede woon – ’n prettige element vir kinders van alle ouderdomme!

Die dagbed werk vir speeltyd én wanneer daar ’n maatjie oorslaap, want daar is genoeg kussings wat ’n knus slaapplek skep. “Ek het ’n kleurvolle tafeldoek by Zara Home gekoop en gebruik om oortreksels vir die kussings te maak. Die kussings by die voet- en koppen-ent is oorgetrek met fluweel van Hertex.”

Oop en toe

Oop rakke kan ’n nagmerrie wees om skoon te hou! Toe die binneversierder Tammy Holmes haar dogter Ivy (2) se speelkamer versier, het sy ’n eenheid van Lovely Bug Creations met laaie in elke tweede vakkie gekies – nie net skep dit ’n treffende patroon nie, dit maak oppaktyd ook ’n speletjie wanneer Ivy kan kies watter speelgoed in watter laai moet kom.

Vir die vloer het Tammy ’n vlekbestande Belgotex-mat met ondervloerse verhitting vir koue winterdae laat installeer. Oor die plakkate teen die muur sê sy: “Ek hou van die idee dat Ivy omring is met kragtige, betekenisvolle woorde wat sy sien en onbewustelik inneem wanneer sy in haar kamer is. Ek sal die aanhalings in die rame waarskynlik verander namate sy ouer word sodat dit nie net ‘plakpapier’ teen die muur raak nie.”

As jy bo wil bly

Op die tweede vloer het Tammy ’n kantoor, twee gastekamers en ’n badkamer ingerig, asook dié oulike kombuishoekie sodat klante en gaste ’n oggendkoffie of peuselhappie kan geniet sonder om heelpad ondertoe te gaan. Die kombuis is dalk klein, maar dit het tonne trefkrag! Sy het kleurryke plakpapier met ’n oorgroot motief (dis spesiaal gedruk van ’n Shutterstock-foto en aangebring deur BBS Projects) gekies, asook twee groot hanglampe wat naby die muur hang sodat dit lig oor die hele ruimte gooi, maar ook dien as taakbeligting. “Ek wou ’n treffende voorkoms skep en het soortgelyke kleure gebruik as in die gastekamers sodat daar samehang tussen die verskillende vertrekke is,” verduidelik Tammy.

Hanglampe van Amatuli

Droommooi

Die opknappers Ashleigh en Brett Holmes van Port Elizabeth wou ’n romantiese oopplan-en suite ontwerp wat pragtig is, maar nie ’n fortuin kos nie. Pleks van duur, ekstralang of pasgemaakte gordyne het hulle ragfyn lap oor ’n gordynreling naby die plafon gehang om dieselfde effek te skep. “Die lap versag regtig die vertrek,” sê Ashleigh. Pleks van handdoekrelings het die paartjie besluit op ’n kapstok. “Ons het dié een by Colonial Antiques gekry teen net R600. Vir ’n bietjie groenigheid het ons ’n macramé-planthanger aan een van die hake gehang. Dis ’n oulike plan wanneer jy nie gate in jou plafon of muur wil boor nie.” 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Amatuli 011 440 5065, amatuli.co.za

Belgotex 033 897 7500, belgotex.co.za

BBS Projects (Dominic Mitchell) 083 240 9699

Colonial Antiques 041 484 2617

Hertex 0860 437 839, hertex.co.za

Ivy Décor and Design (Tammy Holmes) 083 650 4177, ivydecor.co.za

Lovely Bug Creations 072 387 3707, lovelybugcreations.com

Poetry 021 671 5254, poetrystores.co.za

Zara m/zara.com

Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees