Versier jou huis met plante

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nooi ’n vars bries deur jou huis en blaas nuwe lewe in jou dekor met plante en loof.

Foto’s: Francois Oberholster

Terwyl ’n laag verf, muurkuns en nuwe ligte wonders kan doen om ’n huurhuis te verbeter, verbied sommige huurkontrakte sulke basiese veranderinge. Binnenshuise plante is een van die vinnigste, maklikste maniere om jou huis op te kikker sonder dat jy jou huurkontrak verbreek.

As grafiese, dekoratiewe, argitektoniese en kleurvolle elemente kan huisplante jou leefruimte oombliklik in ’n groen oase omskep. Die groenigheid is terselfdertyd goed vir die gees – nie net omdat dit die luggehalte verbeter nie, maar ook oor die vreugde wat jy daaruit put terwyl jy jou plante versorg.

Kies die regte plante vir jou styl en jou ruimte, en dié lewende bykomstighede sal jou ’n leeftyd se plesier gee.

decor, garden, indoor plants

Vredeslelie (Spathiphyllum): Dié lelies is besonder goed met die verbetering van luggehalte binnenshuis. Dit verkies helder lig (maar nie direkte son nie) in redelik humiede vertrekke. Die plant sal swak lig verduur, maar dan nie so goed blom nie. Pasop: Dié plant is giftig. Hou dit dus buite bereik van kinders en troeteldiere wat daaraan kan kou. Was jou hande deeglik nadat jy daarmee gewerk het.

Begonia: Dié plant vra ’n vogtige omgewing. Plaas dit in helder, gefiltreerde lig en hou die grond klam.

Sambreelboom (Schefflera arboricola): Dié geharde, droogtebestande plant vra helder, indirekte sonlig.

Kruipvy (Ficus pumila): Dié Ficus, ’n geharde en maklike groeier, verkies ’n helder vertrek, maar hou nie van direkte sonlig nie. Hoewel hy swak lig kan hanteer, groei hy baie stadiger in sulke toestande. Hy sprei graag sy wortels en moet gesnoei word om sy groei binnenshuis te beperk.

set 1

Stal uit 

Jy kan soveel plante in ’n vertrek gebruik as wat jy wil, maar hou in gedagte hoe groter die ruimte, hoe meer plante het jy nodig om dit te vul – en hoe groter moet hulle wees. Beplan jou uitstalling met sorg vir die beste effek. Speel rond met plante en potte van verskillende groottes om diepte en wisselende hoogtes te bewerkstellig, en eksperimenteer met interessante loof en teksture.

Mooi potte sal die skoonheid van die plante daarin beklemtoon. Gebruik groot plante soos die sambreelboom (Schefflera arboricola) om ’n stelling te maak; dit sal veral trefkrag gee in ’n mandjie. Voeg tekstuurryke keramiek of glaspotte, of selfs leer-elemente, by en skep só ’n unieke rangskikking.

Wenke en idees

Groepeer plante met eenderse lig- en sorgbehoeftes bymekaar, dan is hul onderhoud soveel makliker. Vetplante, kaktusse, mosse en tropiese plante aard goed in terrariums of selfs in ’n skottel. Hul eiesoortige patrone bring ’n speelse element in klein ruimtes. Dié plante is boonop sonder fiemies en vra die minimum aandag.

set 2

Lugplante verg nie veel aandag nie. Week hulle net een keer per week vir 15–20 minute in water om hulle gehidreer te hou. Stal hulle eenvoudig in ’n mooi mandjie uit.

Maak hulle staan

Dekoratiewe staanders is ’n praktiese en kreatiewe manier om jou plante te vertoon. Kies metaal-, plastiek- of houtstaanders wat jou dekor komplementeer en plaas hulle in groepe van verskillende hoogtes – dit skep diepte met die hoër plante agter en kleineres voorlangs.

Bring spatsels kleur in met blomplante. Neem die skakerings van die blare en blomme in ag en laat dit by jou dekorskema inskakel. Hier skep die kleurspel tussen die rooi flaminklelie (Anthurium andreanum) en die helderpienk vaasplant (Aechmea fasciata) ’n treffende fokuspunt, terwyl die geel pot warmte en energie in die ruimte bring.

set 3

Slim wenke

• Huisplante vertoon beter teen ’n eenvoudige agtergrond.

• Wanneer jy plante gaan kies, soek dié uit wat goed sal vaar in die lig- en temperatuurtoestande van die vertrek waarvoor hulle bestem is.

• Moenie plante naby kaggels of verwarmers plaas nie; die warm, droë lug sal al die vogtigheid uit die plante tap, en hulle sal verdor.

Vaasplant (Aechmea fasciata) is tegnies ’n lugplant wat sy wortels vir ondersteuning gebruik; hulle floreer in die skadu of indirekte sonlig.

Flaminklelie (Anthurium andreanum): Dié binnenshuise blomplant sal kleur in ’n vertrek bring. Flaminklelies kort goeie lig en ’n redelike mate van humiditeit om te floreer, maar hul blare sal bruin en bros raak in direkte sonlig.

Areca-palm (Chrysalidocarpus lutescens) groei regop en sterk, vra min aandag en verrig wondere vir ’n oninteressante hoekie. Die Arecapalm vaar goed op helder plekke sonder direkte sonlig, maar verkies ook ’n redelik humiede omgewing.

decor, garden, indoor plants

Vorm en funksie

Stal jou plante in ’n versameling terracotta-potte uit; die eenvormigheid van die potte sorg dat die plante al die aandag kry. Vir groot visuele effek, plaas plante wat mekaar komplementeer bymekaar op sweefrakke wat jou natuurlike dekorelemente tot hul reg sal laat kom. Wanneer jy ’n kombuis met plante versier, neem die humiditeit in ag en kies plante wat in ’n warm omgewing sal floreer.

Jy kan plante ook inspan vir ’n spa-gevoel in jou badkamer. Plante wat goed aard in vogtige ruimtes sluit orgideë, varings, skoonma-se-tong en geraamteplante in. Gee jou groenigheid ’n ereplek op ’n werktafel se blad. Indien jou spasie knap is, stal jou gunstelinge op die vensterbank uit of monteer hake en hang hulle op!

set 5

Aglaonema ‘Silver Queen’ is maklik om te versorg en sal in swak lig aard, maar moenie dat dit in die winter op ’n koue plek staan nie.

Skoonma-se-tong (Sansevieria trifasciata ‘Laurentii’) floreer in toestande met swak lig en hoë humiditeit. Dit is dus perfek vir ’n badkamer of slaapkamer, aangesien dit onsuiwerhede uit die lug help verwyder. En omdat dié plant ’n ware kanniedood is, is dit ’n goeie keuse as jy nie juis groen vingers het nie.

Mot-orgidee (Phalaenopsis): Dié gewilde orgidee vaar besonder goed as huisplant. Dit verkies swak lig en warm, vogtige toestande.

set 4

Slaap rustig

In jou slaapkamer kan jy na hartelus speel met planthoogtes en -skaal. Die treurvy met sy boomvorm gee trefkrag aan ’n oninteressante hoekie – en filtreer boonop onsuiwerhede uit die lug! Aalwyne suiwer ook die atmosfeer én hou helende voordele vir jou vel in. Aalwyne aard die beste in die son en sal dus floreer in ’n helder, sonnige slaapkamer.

Mooi plante in hangers lok die oog boontoe en gee karakter aan andersins saai ruimtes, soos dié leeshoekie. Macramé is weer gewild in allerlei ontwerpe en kleure – wees kreatief en knoop self een vir ’n hangende potplant.

Treurvy (Ficus benjamina) het altyd ’n perfekte boomvorm, al is hy hoe klein; dis dus die perfekte keuse vir groot binneruimtes. Treurvye verkies helder indirekte of gefiltreerde sonlig en redelik hoë humiditeit; hulle hou nie van koue of ’n trek nie.

Geraamteplant (Monstera deliciosa) vaar goed in sonnige vertrekke met hoë humiditeit. Die stam moet teruggesnoei word wanneer dit ná sowat drie jaar uitgegroei is, maar kan oorgeplant word.

Swaardvarings (Nephrolepis exaltata) is maklik om te versorg, hoewel hulle sensitief is vir chemikalieë uit vure of houtkaggels; vermy ook trekke. Die plante gee groot hoeveelhede waterdamp af en verhoog dus humiditeit. Dit vereis redelik baie lig, maar hou nie van skerp sonlig nie. LW Moenie dié indringer in jou tuin uitplant nie.

Aalwyn Plaas dié vetplant naby ’n venster waar dit genoeg son sal kry.

decor, garden, indoor plants

Sorg vir jou plante

1. Maak huisplante versigtig nat; te veel water kan meer skade doen as te min.

2. Toets met jou vinger: As die grond droog is, moet jy seker maak water kom by die wortels uit om genoeg suurstof te verskaf. Sorg ook dat die pot minstens een dreineergat vir oortollige water het.

3. Moenie dat die wortels in water staan nie; gooi oortollige water af wat onderin die pot opdam.

4. Voed jou plante twee keer per maand met ’n goeie wateroplosbare misstof – meer gereeld in die somermaande en minder gereeld in die winter wanneer die plante stadiger groei.

5. Snoei gereeld; dit help dat plante hul grootte en vorm behou.

6. Plaagbeheer: Vee blare gereeld skoon om plae uit te roei wat ’n probleem kan raak indien dit nie behandel word nie.

Jongste uitgawe

Desember 2022 | Januarie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees