book-icon Uitgawe Februarie 2018

Dekordilemma: So verfraai jy jou stoep

akkreditasie
Daar is geen rede hoekom enige stoep afgeskeep moet word nie. Kry hier inspirasie vir jou eie!

’n Maklike oplossing is om jou stoep in ’n shabby-sjiek styl met ’n versameling eklektiese stukke te versier. Probeer die volgende:

1. DIE KLEURSKEMA

Begin deur die mure in ’n baie ligte grys skakering te verf (Cloud Pearl 1 van Dulux sal goed werk) om die ruimte op te helder en ’n meer kontemporêre voorkoms te gee. Verf dan die donker houtvensterrame wit deur eers die vernis af te skuur en die hout voor te berei met Dulux Supergrip; gebruik dan Plascon Gloss Enamel in wit. Nou het jy ’n goeie agtergrond vir jou shabby-sjiek dekor.

Verwyder die kantgordyne aan die binnekant van die vensters; dit sal die vloei tussen binne en buite aansienlik verbeter. Verf die plafon wit en die voordeur ’n romantiese vuilpienk soos Shy Pink, of sagte blougroen soos Lazy Afternoon (albei van Plascon). Kies daarby sagte blougroen, vuilpienk, saliegroen, room en grys skakerings vir jou meubels.

2. DIE MEUBELS

Kyk by tweedehandswinkels of aanlyn op Gumtree en by Facebookkoop- en-verkoopgroepe vir shabby-sjiek stukke. Loer ook in by winkels wat krytverf soos Annie Sloan of Tjhoko Paint verkoop – hulle vernuwe gereeld ou meubels in dié styl; of spring self in en versier jou eie ou meubels met ’n verftegniek.

Ek stel voor jy gebruik ’n hoë tafel met potplante onder die kleiner venster, twee bankies (een met en een sonder ’n rugleuning), ’n tafel en ’n stoel. Plaas die bankie met die rugleuning teen die muur met die groot venster, en die ander een voor die tralies. Voltooi die prentjie met ’n Malawi-stoel en vrolike buitemat.

Jou Jack Russell se mandjie kry dan ’n ereplek langs die bankie. As jy nie jou wisselrigter kan skuif nie, oorweeg om dit met ’n boks gemaak van paletplanke te verbloem. Rond dié romantiese ruimte dan af met strooikussings – oortreksels met ’n roos- of gingang-motief sal lieflik lyk.

3. VIR GROENIGHEID

Vul die ruimte met potplante. Jy kan kleineres op die tafel neersit en ’n groot geraamteplant in die hoek. Vetplante is ook ’n goeie opsie – dit vra min onderhoud en water.

4. IN ’N NUWE LIG

Installeer ’n pragtige kandelaber in die middel bo die koffietafel en hang ’n groot spieël teen die muur om natuurlike lig te weerkaats.

KONTAK shellybergh@gmail.com

Jongste uitgawe

Februarie | Maart 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees