Heather Lund-Truter, materiaal- en dekorspesialis by Exquisite Cuts in Kramerville, Johannesburg, sê ’n gordyn wat net bo die vloer hang, is ideaal – veral omdat sy nie haar gordyne wil laat vuil word nie. “Maar maak seker die opening tussen die onderkant van die gordyn en die vloer is nie groter as 1cm nie,” is haar raad.
Dit hang baie van die tipe vertrek af of ’n gordyn in ’n poel op die vloer kan lê of nie. Dié voorkoms werk beter in imposante ruimtes met hoë plafonne. “Onthou ook dat nie alle materiale ’n mooi, gemaklike poel vorm nie; al die natuurlike stowwe soos katoen, hennep en linne werk wel goed. Jou grootste probleem is om dit skoon te hou. Duur gordyne wat gedurig in kontak met die vloer is en daagliks oop- en toegetrek word, sal mettertyd baie vuil raak en moet telkens professioneel skoongemaak word.”
Die ideale posisie vir gordynstokke is deesdae net onder die kroonlys, pleks van sowat 20cm bo die venster soos wat altyd aanbeveel is.