Sammy Basson van Johannesburg skryf: Ek het hierdie koppie en kleinbordjie (dit kan ook die piering wees) met geverfde detail by my ma geërf. Die koppie is net 6 cm hoog en die bordjie of piering 10,5 cm in deursnee. Albei is duidelik aan die onderkant gemerk. Weet julle enigiets oor hul geskiedenis en of dit enige waarde het?
Ainsley Taylor, konsultant in dekoratiewe kuns, glas en keramiek by Stephan Welz & Co., antwoord: Die grootte van hierdie koppie dui daarop dat dit ’n “demitasse” of halfkoppie is, wat tradisioneel vir koffie gebruik word. Nadat die handel in koffiebone Europa in die 17de eeu bereik het, het die drankie gou gewildheid gewen en het die Midde-Oosterse gebruik om baie warm, sterk koffie in klein koppies te drink oraloor versprei.