Irene van Gend van Somerset-Oos skryf Ek het hierdie kunswerk (470 x 320 mm) deur Victor Visser by my ouers geërf. Het julle enige inligting oor die kunstenaar en die moontlike waarde van die skildery?
Kayleen Wrigley van Walker Scott Art Advisory antwoord Victor Visser was ’n kunstenaar van die Strand in die Wes-Kaap, waar hy met sy vrou en vier dogters gewoon het. Hy is veral bekend vir sy landskapskilderye, en sy gunsteling-onderwerpe was berge en landelike tonele.
Visser het ’n taamlik privaat lewe gelei; hy het nie gereeld sy kuns uitgestal nie en selde reklame vir homself gemaak. Sy werke behaal nie besonder hoë pryse nie en hy word waarskynlik eerder onthou as die invloedryke kunsonderwyser van etlike van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, onder andere Michael Albertyn.