Liesl Granger van Kempton Park skryf: Dit lyk of beurtkrag nog lank ons voorland gaan wees, daarom wil ek my elektriese stoofplate met gas vervang. Wat sê die reëls oor waar gassilinders moet staan – binne of buite? Moet ek ’n geregistreerde installeerder gebruik en wat moet ek nog weet oor kombuiskaste en pypleidings?
Wydus Brits van Gasline in Kaapstad antwoord: Ja-nee, gas is ’n uitkoms in dié tye. Enige gasinstallasie moet egter deur ’n gekwalifiseerde en gesertifiseerde LP-gasinstalleerder gedoen word. Daar is verskeie redes hiervoor: Die installasie moet aan al die spesifikasies van die SABS-standaard vir gasinstallasies (SANS 10087-1:2013) voldoen en die installeerder moet ’n voldoeningsertifikaat (“COC”) aan jou oorhandig wat sertifiseer dat jou installasie veilig is vir gebruik. Jy mag silinders met ’n totale inhoud van hoogstens 19kg LP-gas binne-in jou huis hou; vir ’n woonstel is die maksimum 9 kg.
Indien jy die gassilinder binne-in ’n kombuiskas wil sit, geld sekere vereistes, soos dat daar geen kragpunte in die kas mag wees nie en dat daar voldoende ventilasie moet wees (sien skets as voorbeeld). Vir ’n gassilinder buite jou huis geld nog meer vereistes, soos minimumafstande tussen die silinder(s) en byvoorbeeld ’n venster of deur, dreingate, toestelle soos swembadpompe en lugreëlaars, selfs grensmure! Daar is ook regulasies wat die tipe pype en reëlaars (“regulators”) voorskryf en hoe dit geïnstalleer moet word.