Só stileer jy ’n ingeboude boekrak

akkreditasie
Sukkel jy met ’n ingeboude boekrak? Hier is raad oor hoe om dit op te dollie.

Sanna Atherton skryf: Ons het ’n probleem met ’n ingeboude boekrak: Die rakke is hopeloos te diep, dit sak in en is vreemd gespasieer; dit lyk pal slordig. Toe die mure rondom die rak geverf is (voor ons ingetrek het), het daar verf op die hout gespat, wat bydra tot die onnet voorkoms. Ek sou graag die hele rak wou uithaal en een van nuuts af bou – maar hoe? Watter material moet ek gebruik? Kan ek die rak bloot verf en nuwe handvatsels aan die kasdeure sit? Is daar enige kortpaaie? Help, asseblief!


Jani Goussard van Colour Collectors - Paint & Decor antwoord: Daar’s altyd kortpaaie, maar aangesien dit jou later duur te staan kan kom, is dit beter om jou projek met ’n goeie basis te begin.

Skuur eenvoudig die hout liggies en wend ’n hout- of universele onderlaag aan. Nou kan jy die boekrak na hartelus opkikker! Oorweeg die volgende moontlikhede:

  • Dis ongelooflik watter verskil die regte kleur verf aan ’n voorwerp kan maak. As jy byvoorbeeld die hele boekrak en die panel daarbo in dieselfde kleur as die mure verf, sal dit klaar die vertrek netjieser laat lyk en ’n kalmerende atmosfeer skep.
  • Deur die muur agter die boekrak in ’n baie ligte kleur te verf, sal dit die illusie skep dat die rakke nie so diep is nie – veral as jy die res van die boekrak ’n paar skakerings donkerder verf.
  • Om die boekrak netjieser te laat lyk, kan jy die rakke alkant van die vertikale stut op dieselfde hoogte installeer; oorweeg dit selfs om die stut te verwyder en langer rakke in te sit. Die rakke wat insak, kan reggemaak word deur meer ondersteuning onderaan elke rak aan te bring – dit kan enigiets wees van gewone metaalrakstutte tot versierde stutte van gegote yster; die moontlikhede is legio! Jy kan selfs die bestaande rakke vervang met stewiger hout- of dik glaspanele. Sweefrakke kan ook pragtig lyk.
  • Die boekrak is ook ideaal om as ’n uitstalruimte te gebruik. As jy nie al die rakke nodig het nie, verwyder ’n paar. Versier dan die muur agter die boekrak met plakpapier en rangskik jou gunsteling-foto’s op ’n interessante manier teen die muur. Geniet dit! 

Jongste uitgawe

Februarie | Maart 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees