Chris Matthee van Bellville skryf: Hoe kan ek my ItalOven-pizzaoond droog hou tydens die reënseisoen in die Kaap? Ek het dit self gebou en dit staan buite in die oopte in die tuin. Die sement word in die winter so nat dat dit moeilik is om die oond behoorlik warm te kry; in die somer werk dit perfek. Is daar ’n produk waarmee ek die buitekant kan verseël? Of sal ’n waterdigte oortreksel die nattigheid uithou terwyl die oond nie gebruik word nie?
Cedric Burger van ItalOven antwoord: Ek is bly jy kry soveel nut uit jou pizzaoond. Om te keer dat die pleister aan die buitekant van jou oond water opneem gedurende die winter, stel ons die volgende voor: Bedek die buitekant van die oond eerstens met ’n pleisteronderlaag. Wend dan twee lae dakverf óf twee lae emaljeverf in die kleur van jou keuse aan. Oorweeg gerus ’n waterdigte oortreksel vir ekstra beskerming – dit sal beslis help keer dat klammigheid die pleister binnedring. Nader ItalOven met enige verdere probleme; ons help graag.
KONTAK: italoven.co.za