Karin Lourens van Pretoria skryf: Ek hou my versameling parfuums op ’n klein metaalskinkbord, wat vlekke op ’n kwartsblad veroorsaak het. Die blad is nie een van die bekende handelsmerke nie; ek het dit gekoop by ’n maatskappy wat in grafstene spesialiseer. Wat kan ek doen?
Stephanie Forbes, nasionale bestuurder van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kombuisspesialiste (“KSA”), antwoord: Ek het by die vernaamste invoerders en vervaardigers van klipblaaie in ons vereniging gaan aanklop, en hulle vermoed dit is roesvlekke.
Roes veroorsaak een van die moeilikste merke om uit ’n kwartsoppervlak te kry. Wanneer jy ’n kwartsblad koop, moet jy weet waar dit vandaan kom, wat die gehalte is en watter waarborg jy daarmee saam kry. As jy nie die oorsprong van die materiaal ken nie en dit nie van ’n vertroude handelsmerk is nie, het jy geen waarborg dat dit net so dig of vlekbestand soos die bekende handelsmerke sal wees nie.