Foto’s Henrique Wilding, Elza Cooper en Francois Oberholster l Stilering Marian van Wyk, Zarah Riley, Amanda van Wyngaardt en Cornel Dunn
Nadat die ongemaklike trap tussen die eet- en sitkamer in Brian en Louise Tait se huis in Rondebosch tydens ’n algehele opknap in 2019 geskuif is, het die nuwe oopplanruimte vir hulle net te groot gevoel. Op aanbeveling van die argitek-ontwerper Jenny Collins van Red Cat Design en die binneontwerper Zarah Riley het hulle toe besluit om ’n kaggel tussen die twee dele van dié vertrek te installeer, met ’n opening na albei kante. Dis nie net ’n puik oplossing wat die ruimte subtiel in twee verdeel nie, maar skep ook ’n treffende fokuspunt. Dié plan het perfek gepas by die Taits se visie van ’n leefruimte wat hulle as gesin, asook saam met hul vriende, kan geniet.
“Die skakel tussen die eet- en sitkamer en die kombuis, en die inwoners se interaksie in die drie vertrekke, was belangrik,” vertel Jenny. “Daar moes genoeg hoekies wees vir boek lees en dut in die namiddagson, asook ruimtes waar hulle vriende met ’n vleisbraaiery of rondom die eettafel kan onthaal.”