Die leefstylblogger Lana Kenney het nou ’n aanlynwinkel waar al haar pragtige dekorvondste te koop is. “Ek ontmoet so baie kreatiewe mense deur my blog en ek word deurentyd blootgestel aan wonderlike nuwe produkte – ’n aanlynwinkel was die natuurlike volgende stap,” verduidelik sy. Ons is dol oor dié smal keramiekvase; dis 19,5 cm hoog en kos R445 elk. Koop by lanaloustyle.com/shop.
Dulux se Kleur van die Jaar vir 2018 is ’n pragtige donkerpienk met die naam Pictured Rocks. Die verfreus beskryf dit as ’n “subtiele, warm, volwasse pienk wat die tekstuurryke eienskappe van natuurlike hout en leer eggo”. Hier word dit gekombineer met ander pienk skakerings, luukse lap en ’n titsel metaal om ’n stylvolle dog knus voorkoms in ’n slaapkamer te skep.
Dié pragtige hangstoel (90 cm breed x 100 cm diep x 70 cm hoog) is van herwinde eikehout-wynvate. Dit kos R2 995 by knus.co en kom met 5 m swart of wit tou – perfek vir die stoep!