
Dié kabinet kan ook as bedkassie ingespan word.
- Harde werk 1/10
- Vaardigheidsvlak 3/10
- Tyd nodig 1 uur
Wat jy nodig het
INKOPIELYS
- liasseerkabinet
- vier koffietafelpote (ons s’n is van Sullies Fabrics)
- geel spuitverf
- agt selfsnyskroewe (4 mm x 20 mm)
- vier selfsnyskroewe (3 mm x 16 mm)
- kontakkleefmiddel
- dennehoutplank van 12 x 94 x 1 800 mm
GEREEDSKAP
- figuursaag
- elektriese skroewedraaier
So maak jy
1. Spuit die kabinet met twee lae spuitverf. Laat die eerste laag droog word voor jy die tweede laag aanwend. Jy kan die handvatsels verwyder as jy wil, maar ons het besluit om alles geel te verf.
2. Saag met die figuursaag vier vierkante van 94 x 94 mm uit die dennehoutplank.
3. Skroef die vierkante bo-op die pote vas met die 4 mm x 20 mm-selfsnyskroewe.
4. Wend kleefmiddel in die hoeke van die kabinet se basis en bo-op die houtvierkante aan. Los dit ’n rukkie dat dit eers taai word voor jy verder gaan.
5. Skuif die houtvierkante onder die kabinet se lip in en skroef dit vas met die 3 mm x 16 mmselfsnyskroewe. Wenk As jou liasseerkabinet nie ’n lip onder het nie, kan jy gate deur die houtvierkante en die basis van die kabinet boor en klein boute en moere gebruik om dit vas te heg. Maak net seker dat die laaitjies steeds maklik kan in- en uitskuif.