Deel

Pype + planke = pakplek

akkreditasie
Dié slim pyprak is perfek vir die slaapkamer, badkamer, studeerkamer, speelkamer ...

PROJEKGIDS

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 3/10

Tyd nodig ± 1–2 uur

Maak dit vir net oor R2000 (pype en toebehore R1560, hout en -skroewe R400, saaltjies R40, spoorskroewe en proppe R25) 

Wat jy nodig het 

INKOPIELYS

  • 80-grint-skuurpapier
  • een vel 18mm-laaghout, gesaag in: drie 650 x 400mm-rakke; twee 960 x 400mm-rakke
  • een pakkie 8mm x 16mm- spaanderbordskroewe
  • nege 10mm x 50mm-spoorskroewe
  • nege 12mm-nylon-muurproppe
  • vyftien 32mm- gegalvaniseerde saaltjies
  • die volgende 25mm- gegalvaniseerde besproeiingspype (gebruik standaardlengtes waarvan die punte reeds ’n draad het): vyftien 300mm-lengtes; een 900mm-lengte; twee 1000mm-lengtes; drie 600 mm-lengtes; een 450mm-lengte; een 150mm-lengte; nege flense; sewe elmboë; sewe T-stukke; een sok 

GEREEDSKAP

  • koordlose boor
  • potlood
  • hamerboor en 12mm-boorpunt
  • waterpomptang
  • soksleutel en 17mm-sok 

So maak jy

1 Maak die linkersy van jou pyprak deur ses 300mm-pype te verbind met T-stukke; skroef ’n flens aan die onderpunt om die voetstuk te vorm. Skroef nou ’n 1000mm-pyp dwars in die eerste T-stuk van onder af. Maak die onderste deel van die regtersy deur ’n 300 mm-pyp met ’n T-stuk aan laasgenoemde 1000mm-dwarspyp vas te sit; sit ’n flens onderaan.

WENK Gebruik die waterpomptang om die pypdele vas te draai. 

2 Voltooi die regtersy deur ’n 1000mm- en ’n 150mm-pyp te verbind deur middel van ’n 25 mm-sok en in die T-stuk van die voetstuk te skroef. Skroef die 450mm-pyp in die T-stuk bo. Heg ’n 300 mm-pyp met ’n elmboog aan die bopunt van die linker- én die regtersy en eindig met ’n flens. Maak seker jou pyprak is oral haaks voor jy die gate waar die flense teen die muur vasgeskroef moet word, merk en die gate vir die muurproppe boor. Skroef nou ’n 600 mm-pyp dwars in die middelste drie T-stukke links; skroef ’n elmboog en ’n 300 mm-pyp met ’n flens op die ander punt van dié pype vas. Dit vorm die middelste rakstutte. Skroef ook ’n 900 mm-pyp in die boonste T-stuk links en eindig weer met ’n elmboog, 300 mm-pyp en flens vir die boonste rak. Vir die klerereling, skroef die laaste 300 mm-pyp dwars in die T-stuk regs en rond af met ’n elmboog, 300 mm-pyp en flens. Merk en boor waar elk van die flense teen die muur vaskom. Druk die muurproppe in die gate en skroef die spoorskroewe met jou soksleutel aan die muur vas.  

3 Voltooi jou rak deur die twee 960 x 400 mm-planke op die onderste en boonste dwarsstut aan die pyp te heg met die saaltjies en spaanderbordskroewe (twee saaltjies om die lang pyp en een om die kort pyp). Herhaal met die drie 650 x 400mm-planke op die middelste stutte. Skuur die hout liggies en verf of vernis dit in die afwerking van jou keuse. Ons het verkies om die hout natuurlik te hou.

Projeknotas

• Maak seker jou rak is haaks voor jy dit aan die muur skroef.

• Laat saag al die hout by jou houthandelaar – dit sal jou taak aansienlik vergemaklik. 


Jongste uitgawe

April 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees