Deel

Boerejongens en Kaapsche jongens

Hier is ‘n lekker resep uit Dine van Zyl se nuwe resepteboek, Die Groot Boerekosboek.

Die boerekoskenner Dine van Zyl deel in die Novemberuitgawe van Tuis haar resep vir Tamatiekos. Hier is nog ‘n lekker resep uit haar nuwe resepteboek, Die Groot Boerekosboek.

Boerejongens is rosyntjies wat in ’n brandewynstroop bewaar is. Dit word oor gebakte poeding bedien, of as ’n sopie op sy eie. Kaapsche jongens is vars druiwe wat in ’n mengsel van suiker en brandewyn of witblits ingelê word. Dit word as ’n likeur bedien, met ’n druiwekorrel in elke glas. Dit is ’n ontploffing van heerlikheid as mens op die druiwekorrel byt.Dine

Boerejongens

• 250g (klein pakkie) hanepootrosyntjies

• 500g (2 k) witsuiker

• 500ml (1 k) water

• 1 stuk pypkaneel

• 750ml (1 bottel) brandewyn

Kook die rosyntjies, suiker, water en pypkaneel saam vir ongeveer 5 minute. Laat afkoel en skep alles in ’n groot fles. Giet die brandewyn oor, verseël die fles en hou vir ten minste drie maande voordat dit gebruik word. Keer die fles kort-kort om.

Kaapsche jongens (dis die een wat ek in flesse het)

• 1kg hanepootdruiwe

• 500g (2 k) witsuiker

• 750ml (1 bottel) witblits of goeie brandewyn

Was die hanepootdruiwe en knip die korrels af met die stingel en al. Gebruik net ongekneusde, gesonde korrels. Pak lae druiwekorrels en witsuiker en giet die witblits of brandewyn oor. Draai die fles toe en bêre vir ongeveer drie maande voor dit gebruik word. Keer kort-kort die fles om.

Dine se wenke: moenie die druiwekorrels prik nie en los die stingeltjie in. Maak genoeg! Dié is ’n lekker ding.dine lees tuis

Meer oor Die Groot Boerekosboek

Boerekos stap saam met nostalgie. ’n Resep staan nie op sy eie nie, hy het ’n aanloop en ’n omte. Waar kom dit vandaan? Hoekom het ons sekere gebruike? In hierdie pragboek kan jy dit alles lees. Daar is boonop beproefde resepte en kleurfoto’s van ons tradisionele kos. Nadat Dine van Zyl Die Groot Boerekosboek geskryf het, was sy die gasvrou op die gewilde KykNet-program Boerekos met Dine van Zyl. Hierdie boek handel nie oor die program nie, hoewel daar oorvleueling is. Boerekos is boerekos. Jy gaan steeds boontjiebredie en bobotie kry, maar hierdie resepte is Dine se eie resepte, oor en oor beproef, met wenke en wyshede en die dinge wat die oumense gesê het. Dit gaan hier oor die beste van boerekos: die beste bobotie, beste frikkadelle, beste souskluitjies.

Die Groot Boerekosboek is geskryf en word uitgegee deur Dine van Zyl. Dit is slegs in hardeband beskikbaar, want dit gaan ’n erfstuk raak. Die boek kos R294,95; bestel dit sommer direk by dinevanzyl.co.za.

Boerekos COVERS NEW SIZED EDIT.indd

Jongste uitgawe

April 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees