
Tapas, voorgereg, antipasti, meze, hors d’oeuvres…
Wat jy dit ook al noem, dié klein happies raak al hoe gewilder in die koswêreld – ook in Suid-Afrika, waar dit perfek is vir ons aangename klimaat. Gee hierdie gesogte vingerhappies ’n plaaslike kinkel deur dié veelsydige bestanddeel by te sit: avokado!
Gelukkig is daar geen tekort aan hierdie vrug in Suid-Afrika nie, waar groen- én donkerskil-avokado’s byna heeljaar beskikbaar is. Of jy nou eg Spaanse tapas, ’n Griekse meze-bord (die woord beteken “om te proe”), Italiaans geïnspireerde antipasti (“voorgereg”), Franse hors d’oeuvres (“lusmakers”) of egte Suid-Afrikaanse happies wil voorsit, maak seker jy voeg ’n avokado of twee daarby!
PAPRIKA-EN-KNOFFELGARNALE MET AVOKADO
Genoeg vir 6-8 as voorgereg of tapa
Voorbereidingstyd: 15 minute
Gaarmaaktyd: 10 minute
• 45 ml (3 e.) avokado- of olyfolie
• 500 g groot garnale, afgedop en skoongemaak, met sterte
• 2,5 ml (. t.) seesout
• ’n knypie fyn rooipeper
• 4 groot knoffelhuisies, fyngedruk
• 80 ml (? k.) droë sjerrie
• 10 ml (2 t.) vars suurlemoensap
• 15 ml (1 e.) koue, ongesoute botter, in blokkies gesny
• 2 ml (? t.) gerookte paprika
• 15 ml (1 e.) fyngekapte Italiaanse pietersielie
• 2 avokado’s, geskil, ontpit en fyngedruk
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• suurlemoenwiggies vir voorsit
1 Verhit ’n ysterpan of swaarboombraaipan oor matige hitte. Voeg die olie by en versprei dit oor die pan se bodem. Voeg die garnale in ’n enkellaag by. Braai, sonder om te roer, tot ’n liggoue kleur – ongeveer 90 sekondes. Strooi die sout, rooipeper en knoffel oor. Draai die garnale om en roerbraai tot net-net gaar – ongeveer ’n minuut. Keer uit op ’n bord en hou dit warm onder ’n vel foelie.
2 Giet die sjerrie in die pan en roer totdat al die brandseltjies van die bodem losgekom het. Kook dan tot die vloeistof met sowat die helfte verminder het – ongeveer 1-2 minute. Roer die suurlemoensap en die sap van die garnale by. Verwyder die pan van die hitte en voeg die botter en gerookte paprika by. Roer totdat die sous romerig is. Skep dit oor die garnale en strooi die pietersielie oor.
3 Geur die fyngedrukte avokado na smaak. Skep ’n lepel vol avokado in klein tapasbakkies, plaas ’n warm garnaal bo-op en sit dadelik voor met suurlemoenskyfies.
HET JY GEWEET
Groenskil-avokado’s bly groen as hulle ryp is, maar donkerskil-avokado’s verkleur donkerpers tot swart wanneer hulle gereed is vir eet. Die verskillende variëteite mag dalk verskil in kleur, vorm en grootte, maar hul is almal voedsaam en boonop heerlik!
Vir nog inligting en avokadoresepte, gaan na avocado.co.za, volg @iloveavocadoSA op Facebook of loer na Instagram by @iloveavossa.