Gerooktevarkskenkel-en-boontjiesop

Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
Bereidingstyd: 30 min. + weektyd
Porsies: 6
Gaarmaaktyd: 4 uur
Bestanddele
  • 250 ml - spikkelbone, oornag geweek in koue water
  • 250 ml - wit bone, oornag geweek in koue water
  • 30 ml - olyfolie
  • 1 - ui, gekap
  • 2 - groot wortels, geskil en gekap
  • 2 - selderystingels, gekap
  • 2 - knoffelhuisies, gekneus
  • 1 - groot (sowat 500 g) gerookte varkskenkel (Eisbein)
  • 300 g - gerookte varkbene
  • 2 - lourierblare
  • - ’n takkie elk origanum en tiemie
  • - sowat 2 liter water
  • 80 g - platblaarpietersielie
  • - vars suurlemoensap
Metode
Vars suurlemoen gee dié nostalgiese gunsteling net die regte hupstoot. Onthou om nie sout aan die begin van die gaarmaaktyd by te voeg nie, want dit keer dat die bone sag kook; geur aan die einde.

1 Verhit die olie in ’n groot kastrol en braai die ui, wortel, seldery en knoffel tot sag en glansend. Dreineer die bone en voeg dit saam met die vleis en bene, lourierblare, origanum en tiemie by die gebraaide groente en bedek met water (sowat 2 liter, maar gebruik jou oordeel). Bring tot kookpunt en laat prut stadig vir drie uur tot die vleis van die been afval en die bone murgsag is. Skep gereeld enige skuim af wat bo-op die sop vorm.

2 Skep die vleis en bene uit die sop en laat effens afkoel. Gebruik ’n aartappeldrukker om die bone fyn te druk – sodoende behou jy steeds tekstuur in die sop en kan jy oordeel hoe grof jy dit wil hê. Gebruik andersins ’n staafmenger.

3 Vlok die vleis en skep dit terug in die sop saam met die pietersielie, suurlemoensap en sout en peper na smaak.

Wenk
Ek het die gerookte varkbene by die Food Lover’s Market raakgeloop; dit gee heerlike ekstra rokerige geure aan die sop. Indien jy sukkel om dit in die hande te kry, kan jy gewone varkbene gebruik of dit eenvoudig weglaat.


Jongste uitgawe

Julie 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees