Gestopte varklende met tamatierys

Ed O'Riley
Bereidingstyd: 1 uur
Porsies: 8
Gaarmaaktyd: 1 uur 40 min.
Bestanddele
  • 1,5 kg - varklende met die vel aan
  • 250 ml - bier, witwyn of aftreksel
  • 3 - ryp avokado’s, geskil
  • - suurlemoen- of lemmetjiesap
  • - mikrokoljander om voor te sit
  • - VULSEL
  • 30 ml - avokado-olie
  • 400 g - gemengde sampioene, gekap
  • 1 - knoffelhuisie, gekap
  • 1 - rooi brandrissie, fyngekap
  • 2 - wiele fetakaas, gekrummel
  • - TAMATIERYS
  • 15 ml - avokado-olie
  • ½ - ui
  • 2 - vars jalapeñorissies, ontpit en fyngekap
  • ½ - soetrissie, ontpit en fyngekap
  • 15 ml - harissa-pasta (opsioneel)
  • 250 ml - jasmynrys, afgespoel
  • 500 ml - water
  • - sowat 500ml aftreksel
  • 3 ml - sout
  • 1 - blik tamaties
Metode
Varklende is ’n heerlike, maer oondbraaistuk, perfek om met ’n vulsel te verryk.

Maak dit versigtig gaar om te verseker die vleis is sappig en vol geur – en met ’n bros sooltjie is dit ’n pronkstuk.

1. Gebruik ’n skerp nutsmes en maak insnydings in die varkvel, 1cm uitmekaar, sonder om deur die vet in die vleis te sny (of vra jou slagter om dit vir jou te doen). Giet kookwater oor die vel, dreineer en druk droog met ’n vadoek (kombuispapier kan vassit). Vryf mildelik in met sout en peper en sit dit oop op ’n rakkie in die yskas terwyl jy die vulsel berei. Die koue lug ontwater die vel en lewer ’n brosser resultaat.

2. Maak die vulsel Verhit die olie en braai die sampioene tot goudbruin en geurig. Roer die knoffel en brandrissie by en braai vir nog ’n minuut. Verwyder van die hitte, geur met sout en peper en roer die fetakaas by. Skep uit en laat afkoel.

3. Voorverhit die oond tot 160 °C. Sny nou met ’n skerp mes ’n horisontale gleuf in die dik deel van die vleis en skep die vulsel daarin (versprei dit met jou vingers in ’n eweredige laag). Sit die vleis op ’n draadrakkie in ’n oondroosterpan, giet die bier, wyn of aftreksel onderin en rooster vir sowat 1 uur en 30 minute. Skakel nou die oond se roosterelement aan en rooster die vleis versigtig alkante totdat die sooltjie opgepof en bros is. Skakel die oond af en laat die vleis op ’n warm plek (in die louoond of onder ’n foelietent) rus vir sowat 20 minute voordat jy dit sny.

4. Maak die rys Braai die ui in die olie in ’n skoon pan tot sag en glansend. Roer die brandrissie, die soetrissie, harissa en rys by en roer tot al die ryskorrels met die geurige olie bedek is. Voeg die vloeistof, sout en tamaties by en bring tot kookpunt; verlaag dan die hitte en laat prut vir sowat 20 minute of tot al die vloeistof geabsorbeer en die ryskorrels gaar is, maar nie pap nie. Verwyder van die hitte.

5. Om voor te sit Sny die avokado in dun sky es, drup suurlemoensap oor en geur met sout en peper. Sny die vleis in skywe en sit dit saam met die avokado voor op die rys in individuele bakkies, bedruip met vloeistof uit die roosterpan en ekstra suurlemoensap na smaak. Strooi die vars kruie oor.

Wenk
Die geure in die bakkie is reeds ryk en lekker, maar as die avokado nie romerig genoeg na jou sin is nie, skep ’n lepel volroomjogurt of mayonnaise by. 
Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees