Kataifi-steurgarnale met tzatziki

akkreditasie
Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
Bereidingstyd:
Porsies:
Gaarmaaktyd:
Bestanddele
  • 18 - steurgarnaalsterte, afgedop en derm verwyder
  • - sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 - suurlemoen, skil gerasper
  • - sowat 200 g kataifi-deeg
  • 2 - eierwitte, geklits
  • - olie vir diepbraai
  • - tzatziki vir doop
Metode
Kataifi verwys na ’n stroperige Griekse nagereg én die haarfyn stringe fillodeeg wat tradisioneel daarvoor gebruik word. Vra by jou bakkery of naaste deli vir dié deeg met sy besonderse tekstuur. Jy koop dit gewoonlik bevrore; ontdooi stadig in die yskas voor gebruik.

Genoeg vir 4–6 as voorgereg

Bereidingstyd: hang af van hoe vinnig jy die garnale toedraai

Gaarmaaktyd: in ’n oogwink

1 Ryg die steurgarnale op dun kebabstokkies – druk die stokkie van die stert se punt af deur elke garnaal sodat die stertjie agterbly wanneer jy dit van die dikker kant af hap. Geur nou goed met sout, peper en suurlemoenskil.

Rol die kataifi-deeg oop sodat jy ’n punt het. Knip met ’n skerp kombuisskêr drie of vier 15 cm-lengtes van ’n paar stringe elk. Dié is net ’n beginpunt, want sodra jy begin vou, sal jy self moet uitwerk hoeveel deeg jy vir elke toedraaislag nodig het. Doop drie tot vier steurgarnale in die eierwit tot goed bedek en rol een vir een toe in die dun bondeltjie deeg sodat dit ’n pakkie vorm. Druk die punt mooi toe en laat die stertjie uitsteek vir die mooi. Herhaal tot al die steurgarnale toegedraai is. Sit in die yskas tot nodig en vries enige oorskietdeeg vir ’n volgende keer.

Wenk
Jy kan dié arbeidsintensiewe toedraaiwerk die dag voor jou feesmaal klaarkry; hou dan die pakkies in die yskas.

3 Verhit die olie vir diepbraai tot warm. Toets die hitte met ’n blokkie brood of ’n stukkie ekstra deeg – sodra dit dryf en daar borreltjies rondom vorm, is die olie reg. Braai ’n paar steurgarnale op ’n slag tot die deeg goudbruin en bros is (dit behoort nie meer as ’n paar minute te neem nie; toets een as jy onseker is).

Sit die bros happies warm of teen kamertemperatuur voor met ’n doopsousie soos tzatziki.

Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees