
Genoeg vir: 8 (met oorskiet)
Voorbereiding: 30 minute
Gaarmaaktyd: 3½ uur
Oondtemperatuur: 180 °C
- 3 kg gerookte vark-boud (nie een wat vooraf in die winkel gevries was nie)
- 1 wortel, grofgekap • 2 selderystingels, grofgekap
- 1 ui, in kwarte gesny
- 4 lourierblare
- 750 ml Prosecco of soet vonkelwyn
- sap en gerasperde skil van 1 nartjie
- 15 ml strooisuiker
GLASEERSEL
- 125 ml appelkoos-konfyt
- 30 ml heuning
- 15 ml Dijonmosterd
- 15 ml marmelade
1. Voorverhit die oond. Plaas die varkboud, groente en lourierblare in ’n groot baksakkie in ’n diep roosterpan en voeg die Prosecco en die nartjiesap en -skil by. Verseël die sak, prik ’n paar gaatjies in die bokant en bak vir sowat 2½ uur. Haal die pan uit die oond en laat die vleis 15 minute op ’n snyplank rus. Hou 125ml van die sous eenkant.
2. Neem ’n skerp mes en sny die vel los van die vleis sonder om te veel van die vetlaag te verwyder. Sny dan lyntjies, vierkante of ’n diamantpatroon in die vetlaag (nie tot in die vleis nie). Sit die ham terug in die oondroosterpan.
3. Meng die bestanddele vir die glaseersel met die behoue kookvloeistof en verf dit mildelik oor die vleis. Rooster dit nou verder sodat die vetlaag lekker bros kan braai – sowat 45 minute of tot die glaseersel goudbruin en gekaramelliseer is. Verf gereeld nog glaseersel aan.
4. Strooi ’n dun lagie strooisuiker oor die glaseersel en rooster nog sowat 15 minute – dit gee die glaseersel ’n blink, kraakvars oppervlak. Pst! Granaatpitte is heerlik as garnering hierby.
Wenk vir ’n Kersham: Voeg ’n paar skywe nartjie, rooi uie en geblansjeerde vinkel by die oondpan sowat 30 minute voor die ham gaar is.