
- 1 - mediumgroot eiervrug, in skywe gesny
- 200 g - murgpampoentjies, in skyfies gesny
- 200 g - kersietamaties aan stingels
- 45 ml - olyfolie
- 15 ml elk - olyfolie en botter
- 1 - klein wit ui, gekap
- 2 - knoffelhuisies, gekap
- 300 ml - risottorys
- 15 ml - tamatiepasta
- sowat 1 liter - groenteaftreksel
- 125 ml - gerasperde parmesaankaas
- 60 ml - dennepitte (opsioneel)
- ’n hand vol - basilieblare
1 Voorverhit die oond tot 200 °C. Sprei die eiervrug, murgpampoentjies en tamaties op ’n bakplaat uit en sprinkel die olyfolie oor. Geur met sout en peper en rooster vir 10 minute. Draai die groente met ’n spaan om en rooster nog 10–15 minute of tot gaar en sag. Skakel die roosterelement vir die laaste 5 minute aan vir ’n mooi skroei.
2 Sit die olyfolie en botter in ’n dikboomkastrol en braai die ui en knoffel saam daarin tot glansend. Roer die rys en tamatiepasta by en braai ’n paar minute tot die rys oraloor met olie bedek is. Voeg 250 ml van die aftreksel by en roer tot geabsorbeer; herhaal twee keer en laat prut ná elke byvoeging – sowat 20–30 minute altesaam, tot al dente (die tydsduur hang af van die handelsmerk).
3 Roer die laaste koppie aftreksel by as die korrels amper reg is en verwyder van die hitte. Roer die gaar groente, kaas en neute by en laat staan vir 5 minute. Sit voor met ’n sprinkel goeie olyfolie en basilie uit jou tuin.