
Bestanddele
- 500 g (5 x 250 ml) koekmeel, gesif
- 2,5 ml bakpoeier
- ’n knippie sout
- 100 g botter of varkvet
- ongeveer 150-200 ml warm water
So maak jy
Meng die meel, bakpoeier en sout saam en vryf die botter in. Voeg geleidelik water by en meng dit om ’n stywe deeg te kry. Keer die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en knie dit liggies vir sowat 10 minute tot elasties. Verdeel die deeg in 12 ewe groot balletjies, bedek dit met kleefplastiek en laat dit 20 minute in die yskas rus. Rol nou elke balletjie op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot dit tussen 25 en 30 cm groot is – hoe dunner, hoe beter.
Verhit ’n dikboompan tot lekker warm. Braai nou die tortillas een vir een droog vir net minder as 1 minuut aan elke kant. Jy kan die gaar tortillas in ’n skoon vadoek warm hou. So nie kan jy dit laat afkoel, met waspapier tussenin opmekaar pak, in kleefplastiek toedraai en vries tot nodig.