Deel

Pastitsio

akkreditasie
Bereidingstyd: 1 uur
Porsies: 8–10
Gaarmaaktyd: 30–40 min.
Bestanddele
  • 125 g - spek, gekap
  • 30 ml - olyfolie
  • 1 - groot ui, gekap
  • 3 - selderystingels, fyngekap
  • 2 - wortels, gerasper
  • 2 - vet knoffelhuisies, gekneus
  • 1 kg - maalvleis, verkieslik ’n kombinasie van gemaalde vark- en beesvleis
  • 1 - lourierblaar
  • 5 ml - fyn kaneel
  • 125 ml - droë witwyn
  • 1 blik (410 g) - gekapte tamaties
  • 45 ml - pietersielie, gekap
  • 500 g - macaroni
  • 30 g - botter
  • 2,5 ml - droë ment
  • 15 ml - droë broodkrummels
  • - BÉCHAMELSOUS
  • 125 g - botter
  • 125 g - koekmeel
  • 1 - liter melk
  • - sout en gemaalde swartpeper
  • - varsgerasperde neutmuskaat
Metode
Dis ’n Griekse eenskottelgereg wat in die oond gebak word. Dit herinner mens nogal aan lasagne, maar dis tog anders omdat die maalvleis onder meer met kaneel gegeur word.

Oondtemperatuur: 180 °C 

1. Verhit die spek in ’n kastrol oor lae hitte en braai tot ligbruin. Voeg die olyfolie by, indien nodig, en braai die ui tot sag en glansend. Voeg die wortel en seldery byen braai tot sag. Voeg die knoffel by en daarna die maalvleis. Roer die maalvleis met ’n groot vurk om dit los te maak en braai totdat al die vloeistof verdamp het en die vleis begin bruin word. Geur met sout en swartpeper, lourierblaar en kaneel.

2. Voeg die wyn by en roerbraai tot al die wyn verdamp het. Voeg die geblikte tamaties, pietersielie en 250ml water by en laat dit kook. Stel die hitte laer en prut vir sowat ’n halfuur tot ’n geurige, souserige maalvleismengsel. 

3. Voorverhit die oond. Kook die pasta in soutwater tot al dente en dreineer. Roer die botter en ment by die pasta en skep die helfte van die pasta in ’n oondskottel (35 x 24 x 6cm). Skep al die maalvleis bo-op en skep die oorblywende pasta bo-op die maalvleis.

4. Berei die béchamelsous: Verhit die botter in ’n kastrol en roer die koekmeel by. Voeg die melk by en roer met ’n draadklitser om klontvorming te voorkom. Roer totdat die sous begin dik word en kook. Haal van die plaat af en geur met sout en swartpeper en neutmuskaat. Dit sal ’n dik, gladde sous wees. Gooi dit oor die pasta in die oondskottel en sprinkel broodkrummels bo-oor. Bak dit vir sowat 30-40 minute of tot goudbruin bo-op. Sit warm voor. 

Jongste uitgawe

Julie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees