Pizza met tamatiepesto, aarbeie en avokado

akkreditasie
Dié heerlike kombinasie van aarbeie en avokado is eie aan die lente, wanneer albei dié vrugte in seisoen is.

Gebruik gekoopte pizzabasisse as jy haastig is, maar dis regtig die moeite werd om die deeg te maak – jy kan dit ook oornag in die yskas bêre. 

Maak: 4 pizzas van 20 cm in deursnee

Bereidingstyd: 30 minute, plus rystyd

Baktyd: 15 minute

Oondtemperatuur: 180 °C

Bestanddele

PIZZABASIS

  • 500 g witbrood- of koekmeel
  • 5 ml kitsgis
  • sout en vars gemaalde swartpeper
  • 5 ml vars tiemie, fyn gekap
  • 300 ml louwarm water
  • 30 ml olyfolie

BOLAAG

  • 125 ml sondroogtamatiepesto
  • 2-3 avokado’s, in skyfies gesny
  • 250 g aarbeie, in skyfies of kwarte gesny
  • prosciutto of parmaham
  • vars roketblare
  • vars gemaalde swartpeper
  • olyfolie

So maak jy 

1 Maak die deeg: Meng die meel, gis, sout, swartpeper en tiemie saam in ’n mengbak. Maak ’n holte in die middel en gooi die louwarm water en olyfolie by. Meng dit deur met jou hande om ’n deeg te vorm en sorg dat die kante van die mengbak skoon is. Gooi nog water by, indien nodig. Sit die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en knie dit vir sowat 10 minute of totdat die deeg glad en elasties is. (Jy kan dit ook in ’n menger sit en met ’n deeghaak knie.)

2 Laat die deeg op ’n warm plek rys totdat dit in volume verdubbel het. Knie dan die deeg af en rol dit dun uit (omtrent die dikte van ’n pannekoek) en pak dit op gesmeerde bakplate. Smeer die pesto oor die deegsirkels en bedek dit met kleefplastiek. Sit dit op ’n warm plek om vir sowat 10-15 minute te rus. Voorverhit intussen die oond.

3 Bak die pizzabasisse in ’n voorverhitte oond totdat dit goudbruin en gaar is. Pak die avokadoskyfies bo-op sodra dit uit die oond kom, gevolg deur die aarbeie en repies prosciutto of parmaham. Sit ’n hand vol roketblare bo-op, geur met swartpeper, drup olyfolie oor en sit dadelik voor.

Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees