
- 150 ml - ingedampte melk
- 5 ml - vanieljegeursel
- 530 ml (450 g) - strooisuiker
- 150 ml - volroommelk
- 50 g - ongesoute botter
- 150 g - donkersjokolade, grof gekap
- 150 g - pekan-, hasel- of pistasieneute
1 Gooi die melk, ingedampte melk en strooisuiker in ’n middelslag kastrol en verhit dit oor lae hitte. Roer aanhoudend totdat al die suiker opgelos het. Hou ’n bakkie koue water en ’n kwas byderhand om die suikerkristalle op te los wat teen die kant van die kastrol vorm. Moenie die mengsel laat kook voordat die suiker heeltemal opgelos het nie.
2 Gooi die botter en 50 g gesmelte sjokolade by sodra al die suiker opgelos het. Roer tot glad en bring tot kookpunt. Kook die mengsel totdat dit 116 °C op ’n suikertermometer bereik. As jy nie ’n suikertermometer het nie, kan jy die mengsel vir 8-10 minute oor matige hitte kook. Toets dit dan deur ’n druppel of twee in ’n piering met koue water te drup. Dis reg as die mengsel ’n sagte bolletjie vorm wanneer jy dit tussen jou vingers rol. Haal dit onmiddellik van die plaat af en laat eenkant staan sonder om te roer totdat dit effens afgekoel het.
3 Klop die fudge met ’n houtlepel en voeg terselfdertyd die vanieljegeursel, neute en orige sjokolade by. Sodra die fudge begin verdik, moet jy dit in ’n gesmeerde, uitgevoerde vierkantige koekpan (20 x 20 cm) gooi. Laat die fudge heeltemal afkoel en stol voordat jy dit in blokkies sny.