
- 1 - bos (sowat 400 g) spinasie, gewas
- 1 - klein wit ui, gekap
- 1 - knoffelhuisie, fyngekap
- 15 ml - olyfolie
- 1 - blik bone (ons het pinto gebruik), gedreineer
- - sowat 15 ml Mexikaanse speserye soos Old El Paso Seasoning Mix
- - sowat 15 ml suurlemoensap
- 1 - bossie koljander of pietersielie, gekap
- - ’n knippie gedroogde ment
- 8 - meeltortillas
- 125 ml - mediumvet-roomkaas
- 8 - stafies mozzarellakaas, sowat 6 x 1 cm
1 Sny die wit are uit die spinasieblare. Kap die wit are fyn en meng met die ui en knoffel. Blansjeer die groen blare deur dit in kookwater te dompel tot dit verwelk; verfris dan dadelik in koue water. Dreineer, druk goed droog en kap daarna fyn.
2 Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die uiemengsel tot glansend. Roer die bone by en geur na smaak met die speserymengsel van jou keuse. Roer die gaar spinasie, suurlemoensap en kruie by; verwyder van die hitte sodra die mengsel na jou smaak is.
3 Smeer nou ’n lepel vol roomkaas oor die hele oppervlak van een tortilla op ’n slag. Skep ’n agtste van die spinasievulsel in die middel van die gesmeerde tortilla en steek ’n stafie mozzarella in die middel van die vulsel weg. Vou nou die onderste punt van die tortilla oor die vulsel, vou die kante in soos ’n koevert en rol dan van die gevoude kant af op in ’n netjiese rolletjie – styf genoeg dat daar nie luggate in die vulsel is nie. Sit die rolletjie met die snykant na onder in ’n bak en herhaal met al 8 tortillas.
4 Verhit groente-olie, sowat ’n sentimeter diep, in ’n pan en braai die chimichangas, naatkant eerste, in sarsies oor matige hitte tot die tortillas oraloor goudbruin is en die kaas binne-in gesmelt is. Geniet warm met ’n avokadosousie en salsa.
Pleks van growwe guacamole, probeer ’n klassieke Groen Godin-sousie. Dis net so maklik, maar effens loperiger en perfek vir doop en drup.
Begin met die vlees van ’n groot ryp avokado in ’n maatbeker. Geur na smaak met sout, peper en suurlemoensap. Rasper ’n halwe teelepel vars knoffel by. Voeg nou ’n bietjie varsgekapte platblaarpietersielie en grasuie by en sowat 125 ml Bulgaarse jogurt. Verwerk met jou staafmengser tot glad. Verdun met sowat 30 ml olyfolie en ’n klein bietjie kookwater tot die tekstuur na wense is. Proe en pas weer die geurmiddels aan indien nodig.
Variasies
Chimichangas is ook ’n luukse manier om oorskiet soos rafelvark of hoenderblokkies, gekombineer met ’n kaasvulsel, in ’n feesmaal te omskep.