- 160 g (200 ml) - strooisuiker
- 125 ml - kookwater
- 3 ml - vars suurlemoensap
- 4 - ekstragroot eiers
- 2 - ekstragroot eiergele
- 65 g (80 ml) - strooisuiker
- 5 ml - vanieljegeursel
- 400 ml - melk, warm
- 250 ml - room, warm
Oondtemperatuur: 160 °C
*Vervang gerus die room met melk vir ’n ligter weergawe.
Die nagereg word gebak in ’n waterbad, ook bekend as ’n bain-marie. Dit help om die hitte egalig en matig te hou, wat ’n sysagte tekstuur verseker. Maak uit die staanspoor seker jou ringpan pas netjies in jou oondroosterbak.
1 Maak die karamel
Roer die strooisuiker, kookwater en suurlemoensap saam in ’n klein kastrol oor matige hitte tot al die suiker opgelos is. Laat kook dit dan, sonder om te roer, tot die suikerstroop ’n goue karamelkleur het – hoe donkerder die kleur, hoe dieper die karamelsmaak. Doop ’n kwas in louwarm water en was enige suiker wat teen die kant van die potjie kristalliseer, af. Moenie die karamel roer of die kastrol onnodig beweeg nie – dit alles lei tot kristallisasie.
2 Pan toe!
Giet die karamel in ’n ringpan wat met kleefwerende kossproei gespuit is en laat staan eenkant tot hard.
3 Maak die vla
Klits die eiers, eiergele, strooisuiker en vanielje saam tot goed gemeng. Klits nou die melk en room by tot net glad. Probeer om nie te veel skuimerige lugborrels in die vla te klits nie, want dit kan wys in die eindproduk. As jy te driftig geklits het, skep enige skuim af.
4 Amper daar
Giet die vla deur ’n sif oor die voorbereide karamel in die koekpan. Maak ’n waterbad deur die pan versigtig in ’n groot oondroosterbak of -pan te sit, en giet dan genoeg warm water in dié bak dat die koekpan halfpad daarin staan. Bak vir sowat 50–60 minute of tot die nagereg net wikkel wanneer jy die pan ’n ligte skud gee. Haal versigtig uit die oond en laat afkoel. Laat die poeding vir minstens twee uur (verkieslik oornag) verkoel in die yskas voor jy dit uitkeer.
Om uit te keer, maak die nagereg versigtig om die rand los met ’n klein paletmes. Plaas ’n bord oor die koekpan se bokant en draai dit in ’n vinnige beweging om. Lig die pan versigtig af.