Kransbrood vol lekkernye

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Min dinge klop die heerlike geur en smaak van vars tuisgebakte brood.

Genoeg vir: 2 brode

Bereidingstyd: 2 uur, rystyd ingesluit

Oondtemperatuur: 200 °C

Baktyd: 35 minute

  • 1 kg (7 x 250 ml) witbroodmeel
  • 10 ml sout
  • 10 ml suiker
  • 10 g droë kitsgis (of 25 g vars gis)
  • 30 ml olyfolie
  • sowat 650 ml louwarm water
  • 250-300 ml gerasperde kaas (gebruik ’n mengsel van pecorino, gorgonzola, beleë cheddar, parmesaan, feta of net wat jy tot jou beskikking het)
  • 1 pakkie (sowat 6 skyfies) prosciutto, rofweg in stukke geskeur
  • ’n goeie hand vol vars basilie, in stukke geskeur
  • 8-10 sondroë tamaties in olie, gedreineer, gekap

1 Sif die meel en sout saam in ’n groot mengbak. Voeg die suiker en droë kitsgis by en meng goed. (As jy vars gis gebruik, meng jy die vars gis en suiker met die helfte van die louwarm water, voeg die olyfolie by en laat dit eenkant staan terwyl jy die meel en sout in ’n groot mengbak meng.)

2 Meng die olie en louwarm water en voeg geleidelik genoeg van die vloeistof by die droë bestanddele om ’n sagte deeg te vorm. Voeg nog water by indien nodig. (As jy die vars gis gebruik het, voeg jy die gis-en-suikerwater by die droë bestanddele, gevolg deur die ander helfte van die louwarm water, om dieselfde sagte deeg te verkry.) Sodra jy ’n sagte deeg het, knie die deeg vir sowat 5 minute tot elasties. Knie is baie belangrik, want dit ontwikkel die gluten in die deeg. Plaas die deeg in ’n gesmeerde bak, bedek met gesmeerde kleefplastiek en laat staan op ’n warm plek om te rys tot dubbel die volume.

3 Knie af, voeg die res van die bestanddele by en knie tot glad en al die bestanddele deurgemeng. Verdeel die deeg in die helfte en plaas elke helfte in ’n gesmeerde 23 cm-broodpan, of vorm dit soos op die foto. Bedek liggies en laat nog 30 minute lank rys. Jy kan die brood ook in ronde broodrolletjies vorm of dit in individuele blikkies of potjies bak.

4 Jy kan die gerysde deeg versier deur dit met ’n skêr te knip. Bak vir 35 minute in ’n voorverhitte oond by 200 °C (hierdie tyd is vir groot brode in broodpanne; kleiner broodrolletjies of brood in blikkies sal korter bak, terwyl een groot brood langer sal neem om deur te bak).

Die wonder van gis

• Gis is ’n noodsaaklike bestanddeel om brood te laat rys. ’n Sakkie droë kitsgis van 10 g is gelykstaande aan ’n 25 g-blokkie vars gis en dit is genoeg om 1 kg meel of 500 g meel wat met ander bestanddele gemeng is, te laat rys. Die gis se aktiwiteit word deur hitte beïnvloed.

• Suiker help om die gis te voed en dit meer aktief te maak sodat fermentasie vinniger plaasvind. Sommige broodresepte gebruik heuning of gouestroop vir ekstra geur en kleur. Maar te veel suiker kan die deeg te veel laat rys en dit dan laat platval.

• Sout verbeter nie net die geur van brood nie, maar beheer ook die spoed waarteen die gis fermenteer, en gevolglik die ontwikkeling van die gluten.

• Water word gewoonlik saam met gis gebruik (soms word die water met melk gemeng). Melk is geneig om die brood ’n sagter, ligter tekstuur te gee. Die vloeistof moet louwarm wees sodat die gis optimaal kan werk.

Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees