Rafelvarkvleis op twee maniere

0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
rafelvark-vleis

Rafelvarkvleis met pynappel

Varkblad is tradisioneel die snit wat die Amerikaners verkies om te braai en dan te rafel – dis goed gemarmer en word heerlik sag en sappig wanneer dit stadig oor lae hitte gaar word. Ons het ’n geroosterde varkkruisstuk vir ons weergawe gebruik. ’n Maerder snit waarvan jy die oortollige vet kan afsny is meer ekonomies en, met die regte sous, steeds ’n apploustrekker.

Genoeg vir 8

Voorbereiding: 30 minute

Gaarmaaktyd: 4 uur

Oondtemperatuur: 160 °C

  • 1,9 kg varkkruisstuk
  • 30 ml bruinsuiker
  • 15 ml paprika
  • 5 ml gerookte paprika
  • 5 ml sout
  • 5 ml varsgerasperde swartpeper
  • 5 ml rissievlokkies (of na smaak)
  • 5 ml mosterdpoeier
  • olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies
  • 2 groen brandrissies
  • 125 ml tamatiesous
  • 125 ml blatjang
  • 1 blik (440 g) pynappelstukke in ligte stroop, stukkies en stroop geskei
  • 3 lourierblare

1. Voorverhit die oond. Sny die kruisstuk in vier kwarte en maak insnydings in die vetlaag; dit help dat die vet uitbraai en die speserye die vleis binnedring. Meng die suiker en speserye en vryf dit oraloor die vleis.

2. Verhit ’n oondvaste skottel en braai die vleis bruin in die olie. Voeg die uie, knoffel, rissies, tamatiesous, blatjang, pynappelstroop en lourierblare by, asook 125 ml water; bedek en oondrooster vir 4-6 uur. Ek rooster dit graag vir 4 uur en skakel dan die oond af sodat die vleis nog 2 uur in die oond bly terwyl dit afkoel.

3. Haal die vleis uit die kasserol; teen dié tyd behoort dit so sag te wees dat dit uitmekaarval. Rafel die vleis met twee vurke.

4. Skep die vet af en maak ’n sous van die pansappe. Indien die sous te dun is, kan jy dit met mielieblom of aartappelmeel verdik op die stoof. Meng die sous deur die rafelvleis, proe vir geur en sit dit voor met die pynappelstukkies en jou keuse van jalapeño’s, Mexikaanse salsa en kaas in tortillas of vars broodrolletjies - of maak ons rafelvarkvleispizza.

rafelvark-vleis

Pizza met rafelvarkvleis

<KLIEK HIER VIR DIE VIDEO>

Hierdie stervormige pizza is maklik om te maak en ’n vrolike bederfie saam met kuiermense gedurende die feestyd. Gebruik oorskiet-rafelvark vir die bolaag; kry ons gunsteling-rafelvarkresepte hier of vervang dit met brosgebraaide spekrepe, rokerige hamskyfies of gekapte oorskiet-Kersfees-ham.

Maak 4 pizzas

Voorbereiding: 10 minute

Baktyd: 20 minute

Oondtemperatuur: 200 °C

  • 1 kg winkelbrooddeeg
  • 1 koppie tamatiesalsa in die Mexikaanse styl
  • 4 koppies sousryke rafelvarkvleis
  • ½ koppie geblikte pynappelstukke (opsioneel)
  • 3 ingelegde jalapeño’s (of na smaak), gesny
  • sowat 4 koppies gerasperde mozzarella
  • mikro-basilieblaartjies en suurroom vir voorsit

1. Voorverhit die oond. Verdeel die deeg in vier ewe groot stukke en werk met een stuk op ’n slag. Bestrooi jou werkblad liggies met meel en rol die deeg uit in ’n groot 30 cm-sirkel. Wenk Werk direk op ’n vel bakpapier indien jy bekommerd is jy gaan sukkel om die pizza na ’n oondplaat oor te plaas.

2. Verbeel jou die sirkel is ’n horlosie en maak met ’n skerp mes ’n 4 cm-snit by 12-uur, 3-uur, 6-uur en 9-uur; maak nog ’n snit tussen elkeen. Sny nou ’n ster van 4 cm in die middel van die deeg uit (volg dieselfde lyne).

3. Smeer ’n ruim lepel tamatiesalsa oor die basis. Skep dan die varkvleis rondom die rand van die insnydings in die middel en tussen die insnydings om die buiterand. Plaas ’n paar pynappelstukkies en skyfies jalapeño bo-op en strooi mildelik kaas oor.

4. Vou nou die ingesnyde dele oor die vulsel soos die punte van ’n ster. Knyp die rande oor die vulsel toe waar hulle bymekaarkom, anders kan dit loskom in die oond. 5 Die ster in die middel gaan natuurlik krimp terwyl dit bak; vou daarom die driehoekies terug oor die vulsel rondom. 6 Plaas die pizza op ’n gesmeerde bakplaat of nog beter, ’n geperforeerde pizzapan, en bak vir 20 minute of tot gaar en borrelend. Herhaal met die res van die bestanddele en sit voor met kruie en suurroom.

WENKE
  • Indien jy ’n krans in plaas van die plat brood wil maak, volg dieselfde metode met gekoopte brosdeeg.
  • Die ster in die middel van die pizza is opsioneel. Hou gerus die middel heel indien verkies


Jongste uitgawe

Februarie | Maart 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees