Romesco-sous

akkreditasie
Dié Spaanse soetrissie-en-amandelsous is ’n moet vir jou resepte-arsenaal en ’n spoggerige afwisseling vir tamatiesmoor. Dit smaak vorentoe op enigiets van geroosterde eiervrug of gestoomde groen groente tot pasta en, natuurlik, saam met gebraaide hoender.

Maak sowat 500 ml sous

Bereidingstyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

  • 3 rooi soetrissies
  • 3 pruimtamaties, gehalveer
  • 1–2 rooi brandrissies
  • 250 ml heel amandels
  • 15 ml gerookte paprika
  • 15 ml rooiwynasyn
  • 2 knoffelhuisies
  • 250 ml vars broodblokkies
  • sowat 100 ml olyfolie
  • ’n knippie saffraan

1 Voorverhit die oond se roosterelement. Rangskik die soetrissies heel op ’n bakplaat en plaas dit sowat 10 cm onder die element. Hou die oonddeur op ’n skrefie oop en draai die soetrissies ’n keer of wat om totdat die skilletjies oraloor swart en vol blase is (dis dan veel makliker om later die skille af te trek). Rooster nou, terwyl die oond warm is, ook die tamatiehelftes en brandrissies vir 10 minute. Sit intussen die soetrissies in ’n bak met ’n styfpassende deksel en laat “sweet” hulle vir 5 minute. 

2 Trek die soetrissies se gebrande skilletjies af, sny oop en raak ontslae van die membrane en pitte. Maak die soetrissievlees saam met die amandels, paprika, asyn, knoffel en brood fyn in ’n voedselverwerker. Voeg genoeg olie by om ’n gladde sous te maak. 

3 Verhit die sous in ’n klein kastrol en laat prut vir 10 minute tot geurig. Week die saffraan in ’n bietjie warm water tot goudgeel, voeg dit by die sous en verwyder die sous dan van die hitte. Geur na smaak met sout en peper. 

Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees