Salm-taco’s

akkreditasie
Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
Bereidingstyd: 25 minute
Porsies: 12
Gaarmaaktyd: 5–10 min.
Bestanddele
  • - wasabi na smaak
  • 1 bossie - sprietuie
  • 50 g - gekapte amandels
  • - rooi brandrissie
  • 30 ml - lemmetjiesap
  • 1 klein - rooi of groen koolkop
  • 600 g - vis (salm, tuna of forel)
  • 1 - rooi soetrissie
  • 2 bondels - pak choi
  • 10 ml - heuning
  • 30 ml - gekapte koljander
  • knippie - sout
  • 30 ml - sesamolie
  • 5 ml - gerasperde knoffel
  • 30 ml - witasyn
  • - SLAAI
  • - komkommer
  • - lemmetjiesap
  • 12 - mielie-taco's
  • - SOUS
  • 1 bossie - koljander
  • 5 ml - gerasperde gemmer
  • - sout en peper
  • 125 ml - mayonnaise
  • 30 ml - vissous
  • 15 ml - gekapte ment
Metode
Salm-taco’s met kleurvolle koolslaai is perfek vir ’n intieme onthaal. Boonop rek dit ’n relatief klein porsie ryk salm baie ver.
1. Slaai, Meraai

Rasper ’n klein komkommer, strooi ’n knippie sout oor en laat dit vir 30 minute in ’n vergiettes oor ’n bak dreineer. Druk al die ekstra vog uit. Kap nou 1 klein rooi of groen koolkop, 2 kleinerige bondels pak choi, 1 rooi soetrissie, 1 bossie sprietuie, ’n klein bossie koljander en ’n rooi brandrissie fyn en meng deur die komkommer. Strooi 50 g gekapte amandels oor. 

2. Ry die soustrein

Skud 30 ml lemmetjiesap, 30 ml vissous, 30 ml sesamolie en 30 ml witwynasyn saam in ’n fles. Geur nou met 5 ml elk gerasperde gemmer en knoffel, en 10 ml heuning. Proe en pas die hoeveelhede aan na smaak. Roer laastens 30 ml gekapte koljander en 15 ml gekapte ment by. Meng die helfte van die sous deur die slaai. 

3. Gooi mielies

Verhit 12 bros mielie-taco’s (Old El Paso-taco’s werk goed) volgens die aanwysings op die pakkie in ’n voorverhitte oond – dis belangrik vir ’n lekker knars; maak ook sowat 125 ml pikante mayonnaise skrik met ’n spuitjie wasabi (of gebruik die mayonnaise net so). 

4. Vis vir komplimente

Vars salm-, tuna- of forelfilet is duur en ’n regte bederf, maar vir 12 taco’s het jy net sowat 600 g nodig. Vryf die vis liggies met ’n bietjie olie. Verhit ’n dikboompan en seël die vis tot ligbruin alkante, maar steeds pienk binne. Geur met ’n bietjie lemmetjiesap, sout en peper (onthou net die slaaisous is ook suur). Sny met ’n skerp mes in dun skyfies of vlok eenvoudig.

5. Arriba!

Skep ’n bietjie souserige slaai in elke taco, met ’n paar stukkies vis bo-op. Drup nou mildelik mayonnaise oor elkeen en lê weg!

WENKE
Vir meer fut, oorweeg ’n skeppie bruinrys in elke taco; of versag die byt met romerige avokado in seisoen.
Jongste uitgawe

Desember 2022 | Januarie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees