book-icon Uitgawe Junie 2020

Semolina-gnocchi

akkreditasie
Gnocchi alla Romana word gemaak van semolina-meel pleks van aartappels, en dié botterige lekkerte is trooskos op sy allerbeste – hetsy as bykos óf hoofgereg.

Foto’s Francois Oberholster

Genoeg vir 6–8 as bykos

Bereidingstyd: 30 minute, plus afkoeltyd

Gaarmaaktyd: 30 minute 

Oondtemperatuur: 200 °C

1 liter melk

’n groot knyp neutmuskaat

1 opgehoopte koppie (180 g) semolina

250 ml gerasperde parmesaan

125 ml botter by kamertemperatuur

3 eiergele

• vars kruie soos origanum en salie

1 Verhit die melk in ’n groot kastrol oor matige hitte tot dit begin stoom; klits af en toe om te keer dat dit aanbrand. Geur die melk met sout, varsgemaalde swartpeper en neutmuskaat; verlaag die hitte en klits die semolina geleidelik by. Laat kook dit vir sowat 10 minute terwyl jy aanhoudend roer (gebruik ’n houtlepel) om te keer dat dit aan die kastrol se boom vasbrand.

2 Verwyder die kastrol van die hitte wanneer die mengsel verdik en van die kante begin wegtrek. Voeg die helfte van die kaas en ’n groot klont van die botter by. Roer vinnig tot deurgemeng en effens afgekoel. Voeg die eiergele by en meng vinnig en deeglik deur – anders maak jy roereier!

3 Skep die warm mengsel op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is; smeer dit tot sowat 1,5 cm dik en laat afkoel. (As jy gaste wil oornooi, kan jy stap 1–3 die vorige aand al doen.)

4 Voorverhit die oond. Keer die afgekoelde semolina op ’n gesmeerde kapplank uit en sny in sirkels of driehoeke.

5 Rangskik die semolina-sirkels op ’n oondvaste bord en stip met die oorblywende botter en die kruie. Strooi die kaas oor en bak vir sowat 15 minute, of tot die gnocchi ’n goue kors gevorm het, deurwarm is en ’n goudbruin kleur begin kry. Span gerus jou oond se roosterelement in as jy wil.

Ta-da! Sit voor as ’n vegetariese hoofgereg, as oordadige bykos met jou gunsteling-roosterstuk of gebruik dit as ’n gebakte bolaag oor ’n bredie. ’n Ryk tamatiesous, groente-ratatouille of pangebraaide sampioene en room is wonderlike alternatiewe vir die kruiebottersous in hierdie weergawe. Semolina-gnocchi is amper soos ’n Italiaanse paptert, en enige byvoegings soos bros spek, rissie en beleë cheddar werk goed saam die neutrale geur van die semolina-pap – eksperimenteer na hartelus!

Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees