So maak jy flatervrye deeg

akkreditasie
Francois Oberholster
Om ’n klassieke quiche te maak moet jy eers die perfekte broskorsdeeg vir die kors maak.

Broskorsdeeg

Die resep is voldoende vir twee korse van 23 cm in deursnee.

  • 500 ml (280 g) koekmeel
  • 2,5 ml sout
  • 125 g koue botter, in blokkies gesny
  • 125 ml koue water
  • 5 ml suurlemoensap

1 Sif die koekmeelblom en sout saam in ’n meng- bak. Voeg die koue botterblokkies by en vryf die botter met die vingerpunte in die meel in. Dit sal geleidelik soos broodkrummels begin lyk.

2 Meng die water en suurlemoensap en voeg dit by die droë bestanddele. Voeg eers net twee derdes daarvan by en geleidelik meer as dit nodig is. Meng dit tot ’n stywe deeg en knie dan tot gemeng.

3 Bedek die deeg met kleefplastiek en sit dit vir 1 uur in die yskas.

4 Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot 3 mm dik en voer ’n losboom-quiche- of -tertpan daarmee uit. Prik die bodem met ’n vurk, bedek die deeg met kleefplastiek en sit dit terug in die yskas totdat jy dit nodig kry. 


Voer die quichepan uit

1 Gebruik ’n koekroller om die deeg versigtig op te lig en dan in ’n losboom-quiche- of -tertpan te laat sak.

2 Druk jou vingerpunte in meel en druk dan die deeg liggies teen die bodem en kante van die pan vas. Dis belangrik om dit nou eers met kleefplastiek te bedek en vir minstens 30 minute in die yskas te laat rus voordat jy die kors bak. 

Bak die kors blind

3 Blind bak beteken die tert-dop word vooraf sonder vulsel gebak – dit verseker ’n bros dop vir vulsels wat nie gebak hoef te word nie. Die deeg op die bodem van die pan moet eers met ’n vurk geprik word. Sny ’n bakpapiersirkel wat die deeg bedek, sit dit bo-op neer en gooi dan ’n laag droë boontjies bo-op die bakpapier. Die tertdop kan dan volgens die aanwysings in ’n voorverhitte oond gebak word – gewoonlik vir 10 minute.

4 Haal die pan uit die oond, gooi die boontjies uit, verwyder die bakpapier en sit die tertdop terug in die oond. Dit word nou vir nog ’n paar minute gebak sodat die bodem van die tertdop ook gaar kan word. Laat die tertkors afkoel voordat dit gevul word. 

Handige Wenke

• Die botter en vloeistof moet altyd so koud as moontlik wees. Werk ook verkieslik op ’n yskoue oppervlak, byvoorbeeld marmer of graniet.

• Botter lewer beter resultate as margarien en is ook baie geuriger.

• Werk met jou vingerpunte, die koudste deel van jou hand, wanneer jy die botter in die droë bestanddele invryf.

• Die hoeveelheid vloeistof in ons resep is net ’n riglyn – dit kan wissel na gelang van die voggehalte van die meel. Moenie aan die begin te veel byvoeg nie: Gooi eers net twee derdes by en die res soos dit nodig is. Te veel vloeistof – of as die deeg rek terwyl jy daarmee werk – sal die tertdop laat krimp wanneer jy dit bak.

• Strooi meel op die werkopper- vlak en die koekroller sodat die deeg nie vassit, rek of skeur nie.

• Moet nooit die deeg omdraai terwyl jy dit uitrol nie. Rol dit al- tyd in een rigting uit sodat dit oral ewe dik bly.

• Nadat jy die losboom-quiche- of -tertpan uitgevoer het, moet die deeg eers verkoel word om te keer dat die tertdop krimp wanneer jy dit bak.

• Broskorsdeeg kan vir tot drie maande gevries word, maar dan moet jy dit deeglik toedraai. Laat bevrore deeg liefs oornag in die yskas ontdooi.


Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees