
Genoeg vir 8 as ligte ete
Bereidingstyd: 25 minute
Gaarmaaktyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 180 °C
• 1 kg middelslag-aartappels, geskrop
• 4 salotte, fyngekap en gebraai
• 8 repe spek, gekap en brosgebraai
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 30 ml sagte kruie soos platblaarpietersielie, dragon en kerwel, fyngekap
• 250 ml suurroom of crème fraîche
• sout, peper en neutmuskaat
• 600 g blaardeeg, ontvries
• 1 eiergeel
1 Voorverhit die oond. Sny die aartappels met ’n skerp mes of mandolien in baie dun skyfies. Bedek met water in ’n kastrol, bring tot kookpunt en kook vir sowat 10 minute of tot net sag.
2 Dreineer die aartappels versigtig en druk droog met ’n skoon vadoek. Meng die gaar aartappelskyfies met die gebraaide salotte, spek, gekapte kruie en die suurroom en geur goed na smaak met sout, peper en neutmuskaat.
3 Voer ’n 23 cm-losboomtertpan uit met die helfte van die blaardeeg sodat dit effens oor die pan se rand hang. Pak lagies van die aartappelmengsel in die tertdop tot stampvol.
4 Verf die rand van die deeg met eiergeel en sit die tweede vel blaardeeg bo-op. Druk die twee deeglae stewig op mekaar, sny enige oortollige deeg weg en knyp die deeg reg rondom vas om goed te seël.
5 Sny met ’n skerp mes kruisies in die bokant van die deegdop en verf die hele pastei met eiergeel. Bak vir 30 minute op die onderste rak van die oond sodat die onderkant van die pastei kan deurbak. Skuif die pastei na die middel van die oond en bak nog 30 minute. Laat staan die pastei 15 minute voor jy dit voorsit.