book-icon Uitgawe November 2017
Deel

Tuisgemaakte sjokolade-nougat

akkreditasie
Bereidingstyd: 30 minute
Porsies: 1 pannetjie
Gaarmaaktyd: 10 minute
Bestanddele
  • 1 - 2 - velle ryspapier
  • 420g (500ml) - strooisuiker
  • 175 g (125 ml) - vloeibare glukose
  • 150 ml - kookwater
  • 2 - ekstragroot eierwitte
  • 30 ml - kakao
  • 200 g - geroosterde neute, gekap
  • 150 g - droëvrugte (ons het bos­ bessies en verglansde sitrusskil en kersies gebruik)
Metode
Dié dekadente nougat smaak na nog ’n stukkie, dankie.

Sjokolade-nougat

Dié resep is aangepas uit The Little Book of Chocolat deur Joanne Harris en Fran Warde. Dis ’n wenner wat jou wegvoer na Frankryk en die stel van die fliek Chocolat – genoeg rede vir oordaad met regte warmsjokolade of ’n sopie soetwyn daarby. 

1 Spuit ’n klein broodpan met kleefwerende kossproei en voer dit uit met die ryspapier.

2 Verhit die suiker, glukose en kookwater in ’n klein kastrol oor lae hitte en roer tot al die suiker opgelos is. Dit is belangrik dat die mengsel nie kook voordat al die kristalle opgelos het nie. Hou ’n bakkie kookwater en ’n kwassie byderhand en spoel enige suikerkristalle af wat bo die waterlyn om die rand van die pot vorm.

3 Bring die suikermengsel tot kookpunt en laat kook dit vir 8–10 minute sonder om te roer. As jy ’n suikertermometer het, moet die temperatuur 140 °C bereik. Of skep ’n klein hoeveelheid in ’n bekertjie yswater en voel daaraan met jou vingers; as die balletjie kliphard word en steeds deursigtig is, het dit kraakstadium bereik en is die stroop reg. 


4 Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en voeg die stroop in ’n dun straaltjie by terwyl jy driftig klits. Werk vinnig en maak seker al die suikerstroop word ingeklits.

5 Wanneer die mengsel dik en taai is, roer jy die kakao, neute en vrugte by en skep dit in die voorbereide pan. Gebruik ’n nat lepel om die bokant glad te vryf.

6 Sif ’n lagie kakao oor. Laat die nougat heeltemal afkoel; laat stol dit dan, verkieslik oornag, op ’n koel plek (níé in die yskas nie). Keer uit en sny met ’n warm mes in skywe. Bêre in ’n lugdigte houer. 

Pst!

Eetbare ryspapier is by spesialis-bakwinkels te kry en help om die nougat bymekaar te hou en daardie kenmerkende tekstuur aan die buitekant te gee.








Jongste uitgawe

April 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees