Steurgarnale met ryspilaf

akkreditasie
Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
Bereidingstyd: 25 minute
Porsies: 4
Gaarmaaktyd: 35 minute
Bestanddele
  • 50 g - botter
  • 5 ml - olyfolie
  • 1 - ui, gekap
  • 1 - groot wortel, geskil en in blokkies gesny
  • 2 - knoffelhuisies, gekap
  • 1 - duim vars gemmer, geskil en gerasper
  • 1 - rooi brandrissie, gekap (ontpit as jy wil)
  • 5 ml - borrie
  • 350 ml - jasmynrys
  • 15 ml - tamatiepasta
  • - sowat 650 ml hoenderaftreksel
  • 12 - groot steurgarnale, derm verwyder
  • 15 ml - olie
  • 45 ml - botter
  • 1 - knoffelhuisie, gekap
  • - ’n knippie paprika
  • 15 ml - vars pietersielie, gekap
  • 3 ml - gerasperde suurlemoenskil
  • - vars suurlemoensap vir voorsit
Metode
G’n botter-storie is volledig sonder ’n resep waarin knoffelbotter en seekos trou nie – dis ’n wenkombinasie so oud soos Vader Tyd en steeds onweerstaanbaar. Hou maar die pepermente naby vir ná die fees.

1 Verhit die botter en olie in ’n swaarboompan en roerbraai die uie en wortel stadig tot dit begin kleur kry. Voeg die knoffel, gemmer, rissie en borrie by en braai vir nog ’n minuut of twee. Roer nou die rys en tamatiepasta by totdat die korrels oraloor met die botter bedek is.

2 Voeg die hoenderaftreksel en ’n strooisel seesout by en verhit tot kookpunt. Die hoeveelheid sout gaan afhang van hoe sout jou aftreksel is, so onthou om te proe. Verlaag die hitte en laat prut, met die deksel op, vir 15 minute of tot die rys net gaar en geurig is. Hou dop en vul die vloeistof aan indien dit alles geabsorbeer en weggekook is voor die rys gaar is. Verwyder van die hitte en laat stoom vir nog sowat 5 minute.

3 Verhit ’n dikboompan tot lekker warm. Verf die steurgarnale met die olie en braai vir sowat twee minute. Draai om en roer die botter, knoffel, paprika, pietersielie en sitrusskil by en braai vir nog sowat 3–5 minute, afhangend van die grootte van die gedroggies, tot oraloor pienk en gaar. Toets een as jy onseker is.

4 Verwyder van die hitte en geur met sout en peper na smaak, sowel as vars suurlemoensap. Skep die rys op ’n bord en rangskik die gaar steurgarnale bo-op; bedruip die lot met elke druppel botter uit die pan. Smul dadelik met ekstra kruie en suurlemoen na smaak.

Jongste uitgawe

Mei | Junie 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees