
Genoeg vir sowat 12 tortillas
Bereidingstyd: 40 minute
Gaarmaaktyd: 3 uur
Oondtemperatuur: 170 °C
• 600 g lamsblad-roosterstuk
• 30 ml olie
• 30 ml worcestersous
• 30 ml harissa
• 1 blik gekapte tamaties
• 2 lourierblare
• 1 blik keker-ertjies, gespoel en gedreineer
• 2 eiervrugte, in 5 mm dik ringe gesny
• sowat 60 ml olyfolie (opsioneel)
• 12 klein tortillas of platbrode
• 125 ml gekapte platblaarpietersielie
• 125 ml pistasieneute, gekap
So maak jy
1 Braai die vleis in die olie tot alkante bruin. Sit dit in ’n oondbak met ’n styfpassende deksel en voeg die worcestersous, harissa, tamaties en lourierblare by. Geur met sout en peper, bedek en rooster vir 2 uur in ’n voorverhitte oond teen 170 °C. Haal die lam uit die oond en laat staan vir nog 40 minute. Die vleis moet maklik met twee vurke uitmekaargetrek kan word, dan is dit reg. Meng die rafelvleis terug in die sous en voeg die kekerertjies by.
2 Verhit ’n riffelpan en braai die eiervrugringe tot gaar. Sprinkel die gaar eiervrugskywe met die olyfolie en geur met sout en peper.
3 Om saam te stel Braai die tortillas alkante in ’n droë pan om dit sag te maak en verdeel die lam, eiervrug, pietersielie en neute dan tussen die porsies. Sit dadelik voor. Hoemoes en tzatziki is ’n opsionele ekstra.