Twee maniere: Vinnige Chinese gebraaide varkfilet met gestoomde rolletjies

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ed O'Riley
Varkfilet is ’n maer, sagte beenlose snit wat maklik is om te gebruik. Dis veral gewild rondom Kerstyd, want dis gou gaar en heerlik veelsydig.

Bestel die snit vooraf by jou slagter of vervang dit met repe ontbeende varknek of riboog-steak (uit die blad) as jy nie filet kan kry nie. Varknek en -blad is albei goed gemarmer – voeg dus sowat 10 minute by jou gaarmaaktyd sodat die vet kan uitbraai en die vleis sag en sappig is.

Klapper-bao met Chinese gebraaide varkfilet

Hierdie rolletjies is in ’n japtrap klaar en smaak soos ’n gourmet-wegneemete. Jy kan Chinese braaisous (char siu) by jou plaaslike Oosterse supermark of Woolworths kry. Dit het ’n besonderse soet, pikante geur. Of gebruik jou gunsteling-braaisous – maak net seker dis dik en klewerig sodat dit die vleis bedek en glaseer terwyl dit braai.

  • Maak: 12-14 rolletjies

Voorbereiding: 40 minute, plus marineertyd

Gaarmaaktyd: 35 minute

Oondtemperatuur: 200 °C

CHAR SIU-VARKVLEIS

  • 2 varkfilette (sowat 600 g elk)
  • 160 ml Chinese braaisous (char siu-sous)

ROLLETJIES

  • 1 blik (400 ml) klappermelk, geskud
  • 2 opgehoopte klappermelkblikke (sowat 500 g) bruismeel, plus ekstra vir uitrol
  • 15 ml sesamolie

OM VOOR TE SIT

  • 1 klein komkommer, geskil en dungesny
  • 1 klein groen appel, geskil en in julienne-repies gesny
  • 125 ml mikrokruie
  • 1-2 rooi brandrissies, fyngekap
  • jou gunsteling-doopsous

1. Verwyder die dun silwer vliese buite-om die filet (of vra dat jou slagter dit met sy vlymskerp mes afsny). Sit die filet in ’n toerits-platieksak en voeg driekwart van die sous by. Verseël die sak en masseer die sous goed in die vleis in. As jy genoeg tyd het, laat marineer dit vir ’n paar uur in die yskas, maar sorg dat die vleis weer kamertemperatuur bereik voor jy dit braai.

2. Voorverhit die oond. Haal die vleis met ’n tang uit die sak en plaas dit op die rakkie van ’n oondroosterpan wat met foelie uitgevoer is. Giet ’n koppie water onderin die pan om te keer dat enige sous wat afdrup, vlam vat; bak die filet vir 20 minute.

3. Haal die pan uit die oond, draai die vleis op die rakkie om en verf met van die oorblywende glaseersel. Skakel die roosterelement aan, sit die vleis terug in die oond en rooster dit dan vir 5 minute onder die element. Herhaal deur die vleis ook aan die ander kant te bak en te rooster totdat die vleis heeltemal gaar en oraloor klewerig is. Laat rus vir 5 minute voor jy die filet in dun skyfies sny.

4. Maak die rolletjies: Giet die klappermelk in ’n groot mengbak. Voeg die meel by en roer totdat ’n sagte, effens klewerige deeg vorm. Voeg nog ’n bietjie meel by indien nodig. Knie die deeg dan met jou hande in ’n bak totdat dit bymekaarkom; keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

5. Verdeel die deeg in twee ewe groot stukke; rol elkeen in ’n wors. Neem ’n skerp mes en sny elke wors in 6 of 7 ewe groot stukke. Olie jou hand liggies en druk elke stuk plat; vou dit dan dubbel om die bao te vorm. Plaas die gevormde rolletjies in gesmeerde wit kolwyntjiepapiervorms sodat hulle nie aan die stomer vassit nie.

6. Verdeel die bao tussen twee bamboesstomers. Giet kookwater sowat 2 cm diep in ’n dikboompan of wok en bring tot kookpunt oor hoë hitte. Stapel die twee mandjies op mekaar en sit die deksel op. Plaas die stomer oor die kookwater en stoom vir sowat 15 minute – sonder om te loer! Maak seker die water kook nie weg voor die rolletjies klaar gestoom het nie. Verwyder van die hitte en laat staan nog 5 minute.

7. Om voor te sit, vul die warm rolletjies met die komkommer, appel en kruie en ’n ruim skeppie vark. Strooi die rissie oor en sit voor met enige ekstra char siu-glaseersel of jou gunsteling-doopsouse – Thaise soet rissiesous, pruimsous of sojasous gegeur met gemmer, knoffel en rissie is van my gunstelinge.

Rolletjies gevul met gebraaide Chinese varkvleis

Rooster ’n ekstra filet of gebruik oorskiet-varkvleis en maak die vulsel vir hierdie heerlike sagte rolletjies met dieselfde maklike deeg as hierbo.

Maak:12 rolletjies Voorbereiding: 30 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

VARKVLEISVULSEL

  • 1 gaar char siu-varkfilet, fyngekap
  • 6 sprietuie, fyngekap
  • 60 ml gekapte koljander
  • suurlemoensap
  • 30 ml char siu-sous

ROLLETJIES

  • 1 blik (400 ml) klappermelk, geskud
  • 2 opgehoopte klappermelkblikke
  • (sowat 500 g) bruismeel, plus ekstra vir uitrol
  • 15 ml sesamolie
  • 15 ml sesamsaad

1. Maak die vulsel deur al die bestanddele te meng; pas die geurmiddels aan na jou smaak. Die varkmengsel behoort geurig te wees met genoeg sous, sonder dat dit te nat is.

2. Maak die rolletjies: Giet die klappermelk in ’n groot mengbak. Voeg die meel by en roer totdat ’n sagte, effens klewerige deeg vorm. Voeg nog ’n bietjie meel by indien nodig. Knie die deeg dan met jou hande in ’n bak totdat dit bymekaarkom; keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

3. Verdeel die deeg in twee ewe groot stukke en rol elkeen uit in ’n wors. Neem ’n skerp mes en sny elke wors in 6 ewe groot stukke. Olie jou hand liggies en druk elkeen plat in ’n sirkel. Skep ’n groot lepel vol van die vleismengsel in die middel van die deegsirkel en vorm die deeg in ’n rolletjie rondom die vulsel. Plaas die rolletjies met die naat na onder in gesmeerde wit kolwyntjiepapiervorms sodat hulle nie aan die stomer vassit nie. Strooi die sesamsaad bo-oor.

4. Verdeel die rolletjies tussen twee bamboesstomers. Giet kookwater sowat 2 cm diep in ’n dikboompan of wok en bring tot kookpunt oor hoë hitte. Stapel die twee mandjies op mekaar en sit die deksel op. Plaas die stomer oor die kokende water en stoom vir sowat 15 minute sonder om te loer. Maak seker die water kook nie weg voor die rolletjies klaar gestoom het nie. Verwyder van die hitte en laat staan nog 5 minute. Sit warm voor.

    Jongste uitgawe

    Des | Jan 2022

    Jongste uitgawe
    Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
    Begin lees
    Jongste uitgawe

    WERF 2021

    Jongste uitgawe
    Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
    Begin lees