Varkblad bolognese

0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Francois Oberholster
Bereidingstyd: 30 minute
Porsies: 8
Gaarmaaktyd: Sowat 3½ uur
Bestanddele
  • 125 ml - olyfolie
  • 1,5 kg - varkblad, vel verwyder
  • 500 g - spekblokkies
  • 1 - ui, gekap
  • 1 - wortel, geskil en gekap
  • - sout en peper na smaak
  • 8 - heel vars of bevrore pruimtamaties (ontvries)
  • 4 - knoffelhuisies, fyngekap
  • 250 ml - goeie rooiwyn
  • 60ml - tamatiepasta
  • 15 ml - suiker
  • 250 ml - aftreksel
  • 4 - takkies tiemie
  • 2 - lourierblare
  • 125 ml - room (opsioneel)
  • - sout en peper na smaak
Metode
Pleks van maalvleis gebruik ek varkblad, een van my gunstelingsnitte vir smeltsagte rafelvleis, in ’n veelsydige bolognesestyl-tamatiesous wat op verskeie maniere voorgesit kan word.

Oondtemperatuur: 160 °C

1 Verhit die olie en braai die varkvleis tot oraloor goudbruin. Dié stap is opsioneel, maar ek glo dit verbeter die uiteindelike geur.

2 Haal die blad uit die pan en braai nou die spek in dieselfde olie tot mooi bruin. Roer die ui en wortel by en braai tot glansend.

3 Voorverhit die oond. Sny ’n kruisie in elke tamatie en trek die skille af. Roer die knoffel en geskilde tamaties by die spek en groente in die pan en verhit. Roer die wyn by en kook vir 5 minute.

4 Sit die varkvleis terug in die pan, voeg die tamatiepasta, suiker, aftreksel, tiemie en lourier by, bedek en sit in die oond vir sowat 3 uur.

5 Giet die sous af in ’n kastrol en laat die vleis sowat 15 minute rus. Kook nou die sous af (met of sonder room) tot geurig en dik. Rafel die vleis en verwyder die been. Meng die vleis deur die sous, geur met sout en peper en sit voor met parmesaankaas en vars basilie oor pasta. Of gebruik dit in lasagne, of as vulsel vir gebakte aartappel.

Wenk: ’n Groot stuk vleis aan die been het langer tyd in die oond nodig as kleiner stukke. As jy tyd in die oond wil spaar, vra jou slagter om die vleis te ontbeen en sny dit in kleiner stukke voor jy dit bruin braai; volg dan die resep verder soos bo en verminder die gaarmaaktyd met 1 uur.

Ken jou snit: Varkblad

Hierdie sagte, sappige snit bevat meer kollageen en ’n bietjie marmering. Daar is ook been in – vra gerus dat jou slagter dit verwyder. Blad kan heel, met of sonder die been en ook met of sonder die sooltjie, in die oond gerooster word.

Dis een van ons gunsteling-varkvleissnitte vir oondrooster en talle ervare kokke is dit eens dat varkblad die beste rafeltjievleis maak. Jy kan die personeel by jou slaghuis vra om die blad vir jou in beenlose bladsteaks of in bladtjops (wat wel been aan sal hê) te sny. Albei is heerlik oor die kole, in die oond gerooster of pangebraai.

Algemene vrieswenke

Heelparty groentes en vrugte kan rou en sonder moeite bevries word – onder meer veelsydige tamatie, pampoen, bessies en steenvrugte.

Só maak jy:

• Vries die groente in porsiegroottes wat by jou gesin se eetgewoontes pas en skryf die rou gewig saam met die datum op die pakkie voor dit vrieskas toe gaan. Só maak jy seker jy gebruik die oudste pakkies eerste.

• Vries liefs in bakkies pleks van plastieksakkies wat ná een keer se gebruik vullishoop toe gaan.

• Vrugte soos appel, piesang en steenvrugte kan bruin verkleur indien dit te lank aan lig blootgestel word terwyl jy dit ontpit en sny. Besprinkel met suurlemoensap en werk vinnig!


Jongste uitgawe

Julie 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees