Gerookte varkboud met bessies

0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Francois Oberholster
Bereidingstyd: 25 minute
Porsies: 6
Gaarmaaktyd: ± 3 uur 15 min.
Bestanddele
  • 2 kg - gerookte varkboud
  • 100 ml - tuisgemaakte nektarien-en-bosbessieblatjang (sien resep onder)
  • 3 - selderystingels, gekap
  • - ’n bouquet garni (lourierblare, tiemie, pietersielie, peper)
  • 1 - ui, gekap
  • 4 - naeltjies (opsioneel)
  • 250 ml - groenteaftreksel
  • 350 ml - framboosgeur-gaskoeldrank
Metode

Gerookte varkvleis en die geur van bessies is gemaak vir mekaar. Jy kan ook bessiesap gebruik pleks van die gaskoeldrank.

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Sit die ham, groente, aftreksel en bouquet garni in ’n groot baksak in ’n diep oondbak en giet die koeldrank by. Seël die sak, prik ’n paar gaatjies in die bokant en rooster vir sowat 2½ uur. Haal uit die oond en laat rus die vleis vir 20 minute op ’n kapplank. Hou 125 ml kookvloeistof eenkant.

2. Gebruik ’n skerp mes en sny die vel van die ham af. Wees versigtig dat jy nie die vetlaag ook afsny nie, maar net die buitenste harde vel bo-op die vet. Sny nou die vetlaag in ’n 2 cm-diamantpatroon sonder om tot in die vleis te sny. Druk ’n naeltjie in elke diamant as geurige versiering indien verkies. Sit die vleis terug in die oondbak.

3. Meng die blatjang en behoue kookvloeistof en verf die glaseersel mildelik oor die vleis. Rooster dit dan verder sodat die vetlaag bros kan braai (sowat 45 minute of totdat die glaseersel goudbruin en gekaramelliseer is). Bedruip gereeld met die vloeistof.

Wenk Sit ’n paar patatskywe en jong wortels in die oondbak terwyl die glaseersel bros braai vir ’n bygereg. 

Nektarien-en-bessieblatjang

Gebruik bevrore bosbessies vir dié lekker blatjang. Ontpit 500 g nektariens en sny dit in skyfies. Sit in ’n dikboomkastrol saam met 350 g bevrore bosbessies, 2 mediumgroot rooi uie (gekap), 375 ml rooiwyn- of framboosasyn, 375 ml ligbruinsuiker, 1 klein rooi brandrissie, 2 cm vars gemmer (geskil en gerasper), 5 jenewerbessies, 1 kaneelstokkie, 2 naeltjies, 3 ml swartpeperkorrels en sowat 5 ml sout.

Roer oor matige hitte totdat al die suiker opgelos is. Bring tot kookpunt, verlaag dan die hitte en laat prut. Hou dop en roer af en toe totdat die mengsel begin dik word (sowat 45 minute). Bottel die blatjang en verseël dit terwyl dit warm is. Die blatjang is ook heerlik op broodjies met camembert en koue vleis, of saam met varkboud of geroosterde hoender. Maak sowat 2 flesse. 

 

Jongste uitgawe

Februarie | Maart 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees