Varkvleisburgers met Oosterse geure

0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bereidingstyd: 25 minute
Porsies: 12
Gaarmaaktyd: 15 minute
Bestanddele
  • FRIKKADELLE -
  • 15 ml - olyfolie
  • 1 - klein ui, fyngekap
  • 3 - stingels seldery, fyngekap
  • 3 - knoffelhuisies, gekap
  • 2 - brandrissies, gekap
  • 1 - houertjie roomkaas
  • 1 kg - varsgemaalde varkvleis
  • 15 ml - braaispeserye
  • 1 - klein appel, met skil en al gerasper
  • ’n handjie vol - sagte kruie (koljander en basilie is heerlik), gekap
  • - olie vir vlakbraai
  • 15 ml - elk sojasous, worcestersous en sesamolie, gemeng
  • OM VOOR TE SIT -
  • 12 - klein broodrolletjies
  • - mayonnaise
  • 200 g - spekstukkies, brosgebraai
  • - vars slaai
  • - dun skyfies piekelgemmer, as garnering
Metode
Geurige klein “slider”-burgers is die perfekte kuierkos.

1 Maak die frikkadelle Verhit die olie in ’n pan en braai die ui, seldery, knoffel en brandrissie saam tot glansend. Laat afkoel en meng met die roomkaas.

2 Sit die gemaalde varkvleis in ’n skoon mengbak en voeg die speserye, die roomkaasmengsel, appel en kruie by. Gebruik twee vurke om dit liggies deur te meng en probeer om nie die vleis onnodig saam te pers nie, want dan maak jy kluitjies.

3 Gebruik ’n roomyslepel en verdeel die vleis in 12 ewe groot porsies. Vorm versigtig in frikkadelle en druk liggies plat sonder om die vleis te veel saam te pers.

4 Vlakbraai die frikkadelle in olie tot mooi goudbruin alkante. Verf die sojasousmengsel ligweg teen die einde van die gaarmaaktyd oor vir ’n geurige afronding wat ook help met verbruining.

5 Om saam te stel Sny die broodrolletjies oop en rooster die gesnyde kante in ’n pan met ’n bietjie botter en olie daarin as jy wil (of gebruik sommer die pan waarin jy die spek gebraai het). Smeer nou met mayonnaise na smaak, sit ’n hopie vars slaai daarop en dan ’n plat frikkadel, skyfies gemmer en ’n strooisel spek. Gebruik ’n mooi sosatiestokkie om die lotjie in plek te hou as jy wil.

Wenk Varkvleis is nie altyd klaar gemaal beskikbaar in die vleiskas nie; bestel dit vars by jou slagter.

Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees