
Vir ’n veelsydige, vinnige treffer dié Kerstyd is varkfilet jou beste keuse – bestel die snit vooraf by jou slagter.
Genoeg vir: 12 as deel van ’n charcuterie-bord
Voorbereiding: 20 minute
Gaarmaaktyd: 35–40 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
- 3 varkfilette (altesaam sowat 1 kg)
- 140 g Parmaham (minstens 12 skywe)
- 15 ml olyfolie
VULSEL
- 250 g ricotta
- 125 ml roomkaas met grasuie
- ’n ruim knippie rissievlokkies
- gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 125 ml klein agurkies
1. Voorverhit die oond. Neem ’n skerp mes en maak ’n snit in die lengte van die filette, sowat driekwart deur die vleis, en vou dit oop. Moenie heeltemal deursny nie, anders gaan die vulsel uitloop. Druk die vleis effens platter met jou hande.
2. Geur die varkfilette aan die binnekant met sout en peper. Meng die ricotta, roomkaas, rissies en suurlemoenskil, geur met sout en peper, en verdeel die vulsel tussen die filette. Rangskik heel agurkies oor die middel van die vulsel. Vou die vleis toe en draai elke filet toe in 4 skywe Parmaham sodat dit ’n netjiese rol vorm.
3. Olie die rolle liggies buite-om, rangskik dit op ’n bakplaat en bedek liggies met foelie; rooster tot net gaar maar steeds sappig – sowat 35–40 minute, afhangend van hoe groot die filette is. Indien jy die vleis warm wil voorsit, laat rus dit vir 10 minute; laat die vleis andersins heeltemal afkoel.
4. Om voor te sit, sny die vark in 1 cm-skywe en rangskik dit op ’n bord saam met soet mosterd en koue vleise, kaas en ingelegde lekkernye.
Vra jou slagter om die dun silwer membraan buite-om die filet met sy vlymskerp mes te verwyder. Dit sal keer dat die filet omkrul terwyl dit gaar word.