Varknek Caprese

0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Rol en braai ’n paar varknek-wiele vir vet pret. Vervang die geroosterde soetrissie met pikantrissies as die tyd knyp.

Genoeg vir 6 porsies

Bereidingstyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

  • 800 g heel varknek
  • 100 g salami
  • 2 rooi soetrissies, gerooster en velletjies afgetrek
  • ’n hand vol vars basilie
  • 100 g groen olywe, gekap

SOUS

  • 60 ml balsemiekasyn
  • 45 ml olyfolie
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 3 tiemietakkies, blaartjies gestroop

1. Gebuik ’n skerp mes om die varknek oop te vlek. Bedek met ’n laag kleefplastiek en kap platter met ’n vleishamer. Die dikte van die vleis moet so eweredig moontlik wees.

2. Versprei nou eers die salami in ’n laag oor die vleis, gevolg deur die soetrissie, en strooi dan die basilie en olywe oor. Geur met sout en peper. Rol nou die vleis styf op en steek vas met kebabstokkies 3 cm uit mekaar. Sny tussen die stokkies in porsies. Klits die sousbestanddele saam en sprinkel dit rojaal oor die vleis.

3. Braai nou die vleis oor matige kole tot deurgaar of rooster vir sowat 30 minute in die oond teen 200 °C. Bedruip deurgaans met die sousie. Sit voor met ’n waatlemoen-en-tamatieslaai.

Só rooster jy ’n soetrissie

Pak die soetrissies heel op ’n bakplaat en rooster dit sowat 10 cm onder ’n voorverhitte roosterelement (hou die oonddeur op ’n skrefie oop). Draai dit ’n keer of wat om totdat die skille oraloor swart en vol blase is (dis dan veel makliker om later die skille af te trek).

Haal die soetrissies uit die oond en sit dit in ’n glasbak met ’n deksel of in ’n plastieksak sodat dit vir ’n rukkie kan sweet. Trek die gebrande skilletjies af, sny die soetrissies oop en raak ontslae van die membrane en pitte.

Jongste uitgawe

Sep | Okt 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees