Varkvleispasteitjies met kersieblatjang

akkreditasie
Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
Bereidingstyd: 1 uur
Porsies: 8 pasteitjies
Gaarmaaktyd: 20–30 minute
Bestanddele
  • - SUURROOMDEEG
  • 500 g - koekmeel
  • 50 ml - suiker
  • 5 ml - sout
  • 200 g - botter, koud
  • 15 ml - vars suurlemoensap
  • 300 ml - suurroom of crème fraîche
  • - VULSEL
  • 1 kg - varkmaalvleis
  • 4 - knoffelhuisies, gekap
  • 250 g - swoerdlose spek, gekap
  • 2 - Granny Smith-appels, in klein blokkies gesny
  • - ’n hand vol salieblare
  • 1 - ui, gekap
  • 60 ml - muskadel
  • - geklitste eier om oor te verf
Metode
Die bestanddele in dié pasteitjies vul mekaar uitstekend aan.

Oondtemperatuur: 180 °C

1. Berei die deeg Sif die droë bestanddele saam. Rasper die botter oor en vryf dit met jou vingerpunte in die droë bestanddele in.

2. Meng die suurlemoensap en suurroom, voeg dit by die droë bestanddele en meng tot ’n deeg. Laat rus in die yskas tot yskoud.

3. Berei die vulsel Meng die maalvleis, knoffel, spek, appelblokkies, salie, ui en muskadel saam. Geur dit met sout en varsgemaalde swartpeper.

4. Rol die deeg dun uit tussen twee lae waspapier. Spuit 8 holtes van groot muffinpanne (250 ml) met kleefwerende kossproei (of gebruik enige vormpies met dieselfde inhoudsmaat). Sny die deeg in sirkels en voer die muffinpanne daarmee uit. Skep die koue vulsel in die holtes. Rol die oortollige deeg weer uit en sny deksels van 1 cm groter; plaas dit bo-op die vulsel en verseël die rande met ’n vurk. Verf met geklitste eier en bak vir sowat 20–25 minute of tot goudbruin.

Kersieblatjang

Dis amper kersietyd – gaan pluk genoeg en bêre die lekkerte vir later!

Genoeg vir: 2 bottels

Bereidingstyd: 1 uur

  • 2 kg vars kersies
  • 400 g suiker
  • 1 klein rooi brandrissie, fyngekap
  • 1 ui, fyngekap
  • 5 ml sout
  • 1 duim vars gemmer, fyngekap
  • 1 heel steranyssaad
  • 5 ml heel koljandersaad, geskroei en fyngestamp
  • 375 ml witwynasyn

1. Was en ontpit die kersies. Verhit dit stadig saam met al die ander bestanddele in ’n kastrol. Roer die mengsel aanvanklik oor matige hitte totdat al die suiker opgelos is.

2. Verhit tot kookpunt en laat dit dan stadig prut tot dik. Bottel die blatjang terwyl dit warm is en verseël wanneer dit koud is.


Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees