Varkskywe met suurlemoen en roosmaryn

Kies veelsydige Suid-Afrikaanse varkvleis vir jou gesinsetes – dis heerlik, én puik waarde vir geld.

Genoeg vir 4 porsies

Bereidingstyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: 4–6 minute

• 1 varkfilet (jy kan ook ontbeende varknek of selfs ontbeende varklende gebruik)

• 250 ml koekmeel • sout en varsgemaalde swartpeper

• 2 eiers, geklits

• 120 g droë broodkrummels

• gerasperde skil van 2 suurlemoene

• 1 takkie vars roosmaryn, fyngekap

• olie vir vlakbraai

1 Maak die varkfilet skoon en verwyder enige silwer membrane. Sny die filet in skywe van 5 cm.

2 Vlek elke skyf deur dit in die helfte te sny (sonder om heeltemal deur die vleis te sny) en vou dit dan oop. Plaas die vleis tussen twee lae plastiek of botterpapier en rol die vleis met ’n rolstok dunner tot sowat 1cm. Herhaal met al die skywe.

3 Geur die koekmeel met sout en swartpeper in ’n bord. Giet die geklitste eiers in ’n vlak bak. Geur die broodkrummels met suurlemoenskil en gekapte roosmaryn in ’n aparte vlak bak of ’n bord.

30 minute voor jy gaarmaak

4 Doop elke skyf eers in die meel. Maak seker dit is oraloor bedek voordat jy dit in die geklitste eier en laastens in die broodkrummels doop. Hou eenkant en herhaal met al die skywe. Sit die vleis in die yskas vir 30 minute voor jy dit braai – dit laat die eierlagie hard word en keer dat die krummellaag afval terwyl dit gebraai word.

Gooi dit in die pan!

5 Verhit die olie in ’n pan en braai die varkskywe oor matige hitte vir sowat 2–3 minute tot goudbruin. Draai om en braai die ander kant ook vir sowat 2–3 minute tot bruin. Wees versigtig vir oorgaar maak, want dan is dit droog. Sit onmiddellik voor met fyngemaakte patat en ’n sampioensous indien verkies.

Wenke

• As jy varkvleis reg gaarmaak – nie oorgaar nie – is dit geurig, sag en sappig.

• Varkfilet kan heel gaargemaak word, in blokkies gesny word vir bredie of sosaties en dit maak ook die lekkerste schnitzels.

Die fênsie name
Wat die Franse escalopes noem, en die Duitsers schnitzels, is een en dieselfde ding: beenlose stukke vark-, kalfs-, bees- of hoendervleis (sonder vel) wat met ’n vleishamer of rolstok in dunner skywe gekap of gerol en dan gekrummel en gebraai word.

Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees