Wildsblad in die oond

akkreditasie
Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
’n Blad kan ontbeen, gevul en gerol word voordat dit gaargemaak word. Dis dan makliker en netjieser om voor te sit omdat jy nie nog rondom ’n been ook hoef te sny nie. Maar vleis wat aan die been gaargemaak word is darem soveel geuriger!

Genoeg vir: 4 porsies 

Bereidingstyd: 30 minute (marinering uitgesluit)

Oondtemperatuur: 180 °C

Gaarmaaktyd: sowat 2 uur

Bestanddele

  • ’n wildsblad (jong koedoe of springbok) van sowat 1,5 kg
  • 2 knoffelhuisies, geskil, in repies gesny
  • 125 g repiespek

MARINADE

  • 80 ml olyfolie
  • 250 ml witwynasyn
  • 30 ml sojasous
  • 15 ml bruinsuiker
  • 5 ml fyn koljander
  • 5 ml fyn naeltjies
  • 2 lourierblare
  • 5 ml mosterd
  • 125 ml blatjang

Só maak jy

1 Maak klein insnydings in die blad en druk die knoffelrepies daarin.

2 Meng al die bestanddele vir die marinade. Plaas die blad in ’n geskikte houer vir marinering en giet die marinade oor. Marineer vir 1 tot 2 dae in die yskas. Draai die blad gereeld om.

3 Voorverhit die oond. Haal die vleis uit die marinade en sit dit in ’n oondpan. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Plaas die spekvleisrepe bo-op die blad.

4 Voeg sowat 350 ml aftreksel of water by die marinade en roer dit deur. Giet dit by die blad in die oondpan. Sit die blad in die oond vir sowat 45 minute.

5 Verlaag die oondtemperatuur na 160 °C. Bedruip die blad met die pansappe en oondrooster vir nog sowat 1½–2 uur of tot sag. Bedruip die blad gereeld. Haal dit uit die oond en laat rus dit op ’n warm plek.

6 Verhit die pansappe in die oondpan, voeg ’n bietjie wyn of water by en skraap die bruin deeltjies los. Meng gelyke hoeveelhede koekmeel en botter tot ’n pasta en roer dit bietjie vir bietjie by totdat die sous genoegsaam verdik het. Sit dit saam met die blad voor.

Wat eet ’n mens saam met wildsvleis?

Jou bykosse behoort die smaak van die wildsvleis te komplementeer – dit moet kontras in kleur, tekstuur en smaak verskaf. Daarom dat soet bykosse soos pampoen, patats of droëvrugte altyd goed pas; natuurlik ook appel- of kweperjellie vir daardie soetigheidjie wat wildsvleis vra.

En vir die sous? Kies aartappel in al sy gedaantes, of stampmielies, krummelpap of selfs ’ntuisgebakte brood.


Jongste uitgawe

September 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees