
Wie woon hier? Inez de Vries
WAAR Kuilsrivier, Kaapstad
GROOTTE 6 m2
Toe Inez de Vries meer as ’n dekade gelede hoor haar suster se huis in Kuilsrivier is in die mark, het sy geweet met ’n bietjie harde werk sou dié lelike eendjie die pragtigste swaan word. Sy het die uitdaging aanvaar en die huis in 2008 gekoop, met tonne idees oor hoe sy die ruimte tot sy reg gaan laat kom.
Maar dit was ’n stadige proses. “Ek het jaar n. jaar, afhanged van my begroting, ’n projek probeer voltooi. Dis so ’n vervullende ervaring om die plek te verander presies soos ek dit wil hê – en ek kan ure lank deur ou uitgawes van Tuis blaai,” sê sy.
Tot dusver het sy ’n stoep en braaikamer aangebou, die garage in ’n gastekamer met en suite-badkamer omskep, die hoofslaapkamer opgeknap en nuwe vloere gelê. Sy het regdeur die huis aardse afwerkings soos sement en hout gekies om die huis ’n tydlose gevoel te gee.
Haar nuutste projek, wat vanjaar voltooi is, getuig dubbel en dwars van haar moed. Die badkamer was net 6 m2 groot, volgens Inez “heeltemal te beknop”. Daar was ’n bad, maar dit het na haar mening net ruimte in beslag geneem: “Ek het dit net twee keer per jaar gebruik,” sê sy en lag.
Die toegeboude stort het haar ook gepla, toe laat sy dit saam met die bad uitbreek en skuif die toilet, wasbak en stort so dat dit beter gebruik maak van die ruimte. Danksy die nuwe uitleg kon Inez haar droom bewaarheid: ’n oop stort met ’n reënstortkop.
Die vensters
Die blindings is verwyder en die vensters met matglas vervang; dit laat meer natuurlike lig in, wat die ruimte groter laat voel.
Die stort
Danksy ’n effense helling wat na die wateruitlaat lei en oorgenoeg ruimte rondom raak die res van die badkamer nie nat wanneer Inez stort nie.
Die vloer
Danksy die kleur van die stukadoorpleister op die vloer lyk dit nie nat ná ’n stort nie; die installering het ’n week geneem omdat dit in lae gedoen moes word. Dis baie maklik om skoon te maak: daar is nie voegbry wat geskrop moet word of moeilike hoekies soos by ’n gewone stortdeur nie. Die kiaat-inlegwerk op die vloer is deur Reclaimed Woods van ou dwarslêers gemaak.
Die afwerkings
Inez het gehou by eenvoudige afwerkings en het die skoon lyne en strak voorkoms van die sement versag met hout en ander aardse bykomstighede, soos dié spieël in ’n rottangraam en ’n luukse kristalkandelaber. Reclaimed Woods het ook die houtblaaie gemaak, wat toe deur ’n bouer geïnstalleer is.
Onthou Nie alle kandelabers is geskik vir gebruik in ’n badkamer nie. Die elektriese passtuk moet verseël wees sodat die klammigheid nie kortsluitings veroorsaak nie.
’n Leerkurwe
Die projek is ná vier weke voltooi, maar daar was haakplekke. Al glo Inez in mondelingse aanbevelings vir kontrakteurs, was dit in dié geval nie die beste keuse nie. Twee onvervare loodgieters en ’n houtverskaffer wat nie reg gemeet het nie, het vir ’n terugslag gesorg. Maar Inez het haar nie laat afskrik nie.
Vorige projekte het haar geleer om alles te bevraagteken; toe ’n bouer nie haar vrae bevredigend kon beantwoord nie, het sy betroubaarder kontrakteurs gekry wat die afwerking en dienste wat sy verlang het, kon verskaf.
“Die verbetering van my huis is ’n nimmereindigende projek,” sê sy. Die badkamer was op 14 Februarie kant en klaar – “ ’n oulike Valentynsgeskenk aan myself!”
- Die loodgieter het die bestaande toebehore (die bad, stort, toilet en wasbak) uitgehaal.
- Die plasing van die toilet, wasbak en stort is verander om die beknopte ruimte beter te benut.
- Die ruimte onder die vloer waar die rioolpyp sou loop, is uitgegrawe en pype geïnstalleer.
- ’n Muur is gebou om die muurgemonteerde toilet se spoelbak te akkommodeer, en toe gepleister.
- Crete and Wall Creations het al die oorblywende teëls uitgekap om die mure voor te berei, en dit toe met ’n stukadoorpleister afgewerk.
V&A met Inez
Wat geniet jy die meeste van jou nuwe badkamer? Ek hou van die vryheid van beweging – jy is nie ingeperk deur ’n stortdeur of trappies nie.
Watter raad het jy vir iemand wat hul eerste opknapprojek aanpak? Begin met kleiner projekte in en om die huis om te bepaal of jou loodgieter of bouer bevoeg is vir groter projekte.
Wat moet jy voor die tyd navors? Ken jou materiale, van die pype wat die loodgieter gaan gebruik tot die afwerking van die afvlaklaag wat jy wil hê – nie alle afvlaklae is geskik vir ’n nat vertrek nie en sekeres moet verseël word. Maak seker jou hout kan aan water blootgestel word. Die hout wat vir inlegwerk in die vloer gebruik is, moet minstens 50 mm dik wees, anders kan dit skeeftrek.
Hoe het jy van begin tot einde ’n projek doeltreffend bestuur sonder die hulp van ’n kontrakteur? Reël vooraf ’n vergadering met al die kontrakteurs sodat elkeen presies weet waarvoor hulle verantwoordelik is. Maak tekeninge met akkurate mate. Onthou, soms sal jy ’n antwoord kry wat gerieflik vir die kontrakteur is, maar nie vir jou nie. Raadpleeg iemand in die bedryf om seker te maak jy word nie ingeloop nie.
Hoe kry jy die beste produkte? Ek kyk aanlyn en vergelyk pryse; ek lees ook altyd resensies voor ek koop.
Enige ander wenke? Maak seker die kontrakteurs beskadig niks anders terwyl hulle werk nie. Ek het byvoorbeeld goedkoop komberse gekoop om die vloere in die res van die huis te beskerm.
Mure en vloere Stukadoorpleister deur Crete and Wall Creations (021 556 6595, flooringcapetown.co.za)
Toebehore ITD Zola-stortkop (200 mm), Amina-wasbak, Tivoli-krane en Diplomattoilet met Geberit-spoelbak van CTM (0800 010 810, ctm.co.za)
Beligting Kristalkandelaber van Progress Lighting (021 945 3636, progresslighting.co.za)
Hout Dwarslêerhout vir rak en vloer van Reclaimed Woods (021 914 1532, sleeperwood.co.za)
Bykomstighede Wasgoedmandjie van @home (0860 576 576, home.co.za); spieël van MRP Home (0800 212 535, mrphome.com); wit plantpot van Stodels Garden Centre (021 852 7400); handdoekrelings en toiletrol houer uit die Butler-reeks deur Continental Bathrooms (021 557 8888, continentalplumbing.co.za)