Die storie van ’n kasteel: Hoofstuk 3

akkreditasie
 Die McDonald-gesin.
Die McDonald-gesin.
Bonjour vanaf Château de Capelle wat tot onlangs nog in ’n winterjas toegewikkel was.

Sedert my laaste skrywe het die herfsblare plek gemaak vir kaal takke. Kort ná Kersfees het Moeder Natuur soos ’n binnehuisversierder haar stempel op die tuin kom afdruk met die kleur wat hierdie seisoen se nuutste gier was. Sneeukristalle het in die son geskitter en die château in ’n sprokiesland verander. Wit was beslis vir ’n paar weke die kleur wat hoogmode was.

Die wit wonderwêreld het die sirkel voltooi en was die finale toneel van die verskillende vier seisoene wat ons by die kasteel beleef het. Ons het in Oktober 2020 een jaar gevier sedert ons die eienaars van die château geword het. Dit was ’n jaar waartydens Covid-19 ons restourasieprojek ietwat aan bande gelê het, maar ondanks verskeie grendeltye en geslote winkels het ons steeds gevorder.

In November 2020 het ons die tweede grendeltyd beleef. My man was in Engeland vir besigheid toe die aankondiging gemaak is en kon eers ’n maand later terugkeer Frankryk toe. Intussen het ek en die kinders voortgegaan met die opknapwerk, maar teen ’n stadiger pas.

Met die hulp van ’n vriend het ons ’n nuwe muur in een van die buitekamers met verskeie lae hout bedek vir ’n rustieke voorkoms. ’n Paar dae later het ons die voordeur se spaanderbord geverf om by die res van die huis te pas tot tyd en wyl die deur gerestoureer kan word. Daardie taak sal hopelik binnekort ’n aanvang neem. Die kinders het in kranige verwers en muurpapierstropers ontaard met al die projekte.

Net voor die Kersboom in die kasteel verskyn het, het ’n boom langs die ou toring verdwyn. Ons wou nie veel aan die landskap van die tuin verander in die eerste jaar nie, maar ons het hierdie spesifieke ou boom vir maande dopgehou. Die boom het sedert ons aankoms by die kasteel nie gesond gelyk nie, maar ons wou dit kans gee om te sien of dit weer groei. Die takke het pap bly hang en die blare het al hoe meer verbruin, daarom het ons die hartseer besluit geneem om dit af te kap. Die binnekant van die stam was plek-plek hol en sponserig, so ons het aanvaar dat dit die beste besluit was. Die boom het ’n prominente plek langs die toring beklee en sy afwesigheid het ’n groot verandering teweeg gebring.

Die feesseisoen het ook ’n verandering vir die ou gebou ingehou. Ons het min seisoenale dekor aan die buitekant van die château aangebring vir Kersfees, maar ’n paar stringe liggies het ’n feestelike atmosfeer verleen. Die versiering van ’n gebou wat byna dertig jaar lank nie inwoners gehad het om Kersfees te vier nie, was ’n liefdestaak wat ons met ywer en entoesiasme aangepak het.

Kort na Kersfees het ek weer die kasteel ingevaar met emmers, skropborsels en skoonmaakmiddels. Ek het die kaste uitgeskrop en ’n ontdekking in een van die solderkaste gemaak. Daar was tydskrifte van die 1940’s, ’n atlas van 1855, ’n kartondoos van Au Bon Marche en ’n verweerde ou baadjie. Vir party mense is dit gemors, maar vir my ’n bron van opwinding en deel van ons kasteel se storie. Ek oorweeg verskeie idees om dit ten toon te stel as “skatte” van die château, hetsy in ’n vertoonkas of in rame, soos die ou muurpapier waarvan ek stukke bewaar het.

Een van die ander “skatte” wat by die château gevoeg is, is ’n koffiestel van Bareuther Waldsassen. Johann Mathäus Riess het in 1866 hierdie fyn porselein in Duitsland begin vervaardig. Die fabriek is gedurende die Tweede Wêreldoorlog heeltemal verwoes, maar was teen 1949 weer in bedryf. Ongelukkig het hulle in 1994 hul deure finaal gesluit. Die goue stel lyk pragtig as vertoonstuk op ’n kombuisrak, maar ek het besluit om dit vir my onlangse verjaarsdag te gebruik. Iets so pragtig moet die doel dien waarvoor dit geskep is en dit was met ’n tikkie nostalgie oor vergange dae dat ek uit een van die koppies geteug het.

Ek het ’n tydelike slaapkamer ingerig in die vertrek wat in die vorige artikel op Tuis se webblad verskyn het. Die gedroogde krismisrose op die bedkassies verleen ’n bietjie kleur en is ’n maklike manier om blomme deel van die dekor te maak.

Ons het ’n groot skuurmasjien gehuur om die vloer in hierdie vertrek te skuur. Daarna is dit gebeits om herstelwerk aan die hout te verbloem en die insetsels dieselfde kleur te gee.

Die vertrek aan die ander kant van die gang is tans in die proses om ’n badkamer te word. Aangesien hier voorheen niks was nie, moes ons pype aanlê. Dit was ’n effense uitdaging, want ons wou die oorspronklike houtvloer behou. Die risiko was te hoog dat die houtpanele sou breek as ons hulle probeer oplig, daarom is die pype bokant die vloer aangebring. Die pype se ligging het derhalwe bepaal waar die beste sou wees om die stort te installeer, wat ons hoogste punt sou wees vir die uitvloeipyp.

Ek wou graag ’n pootjiesbad insit, maar sou dan ’n manier moes vind om die pype te versteek. Ek het egter ’n ou spieël, handdoekreling en kandelaber gevind wat ek hoop steeds die antieke voorkoms sal verleen wat ek in gedagte het. My pootjiesbad bewaar ek vir ’n ander badkamer wat ’n beter uitleg het.

Die mure in die gang het ou waterskade gehad en die pleister het plek-plek sommer saam met die muurpapier afgekom. Ons het dele gepleister om die ergste skade te herstel, maar het besluit om ’n effens ruwe afwerking te laat. Die patina op die mure sal moeilik wees om weer na te boots en ons voel dat dit by die karakter en ouderdom van die kasteel inpas. Ons sê dikwels in Afrikaans die mure het ore, maar in die kasteel dig ons ook ander eienskappe aan die mure toe en wens dikwels dat hulle kon praat. Intussen vertel ek self Château de Capelle se storie en hoe ons gesin weer lewe in haar ou mure blaas.

Ons almal spring in om Château de Capelle se eertydse glorie te herstel. Die nuutste toevoeging tot ons gesin hou ook ’n wakende oog. Belle is ’n babahondjie wat die eerste naweek in Januarie haar opwagting by die château gemaak het. Haar stert swaai soos ’n septer in al die kamers en sy lyk heel tevrede met die werk tot dusver. Ek moet net keer of sy gryp ook ’n kwas en begin verf!

Die projek is uitputtend, maar in hierdie stadium is ons entoesiasme onblusbaar. Mag hierdie jaar hope motivering bring aan almal wat ook restourasieprojekte aanpak.

Groete uit Frankryk, tot volgende keer.

Jongste uitgawe

Des | Jan 2022

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees