book-icon Uitgawe Februarie 2018
Deel

’n Lieflike kombuis op ’n begroting

akkreditasie
Ramona Afonso en haar raakvatter-man, Nuno, het hard gewerk om dié stylvolle oopplan-kombuis in te rig.

Foto’s Elza Cooper • Stilering Amanda van Wyngaardt

Wie woon hier? Ramona en Nuno Afonso met hul dogters, Aurora (10) en Luna (4)
WAAR Northcliff, Johannesburg
GROOTTE 40 m²

Vandat hulle vier en ’n half jaar gelede huis gekoop het, droom Ramona Afonso van ’n nuwe kombuis. “Dis vir my so lekker om vir my gesin te kook, maar die ou kombuis was net glad nie inspirerend nie,” onthou sy. Boonop was dit afgesonder van die eet- en sitkamer, wat op hul beurt aparte vertrekke was. “Ek is Libanees en my man Portugees, en ons hou graag familiekuiers by ons huis; ’n oopplanruimte is dus ideaal.”

Ramona bedryf ’n klein dekorsaak, Ruffles and Rust, en het ’n agtergrond in die modebedryf – daar is dus nie ’n tekort aan kreatiwiteit nie. Maar haar hande het lankal vir dié kombuis gejeuk en op die ou end was dit ’n heel ander probleem wat aanleiding gegee het tot die opknap: lelike roomkleurige volvoermatte wat amper regdeur die huis gelê het.

Die deurgang na die spens het sy plaasstyl gekry danksy ’n balk van herwinde hout en rooi kleibakstene. Die mooi teëls op die spatpaneel agter die stoof kom van Portugal; dit was ’n geskenk van Nuno se ma. Buiten die houtblokkies op die vloer het die paartjie swart-en-wit sementteëls rondom die stoof en wasbak gelê vir maklik skoonmaak. “Ons het dit spotgoedkoop gekry, want dit was deel van ’n defektiewe stel, al kan jy eintlik niks fout sien nie,” sê Ramona. Dié teëls is ook op die spensvloer gelê.

Foto bo: Die deurgang na die spens het sy plaasstyl gekry danksy ’n balk van herwinde hout en rooi kleibakstene.

Dis in die detail Houtstroke is aan die laaivoorkante geplak omdat Ramona dol is oor die plaasvoorkoms.

Die mooi teëls op die spatpaneel agter die stoof kom van Portugal; dit was ’n geskenk van Nuno se ma. Buiten die houtblokkies op die vloer het die paartjie swart en-wit sementteëls rondom die stoof en wasbak gelê vir maklik skoonmaak. “Ons het dit spotgoedkoop gekry, want dit was deel van ’n defektiewe stel, al kan jy eintlik niks fout sien nie,” sê Ramona. Dié teëls is ook op die spensvloer gelê.

Ramona het haar hart verloor op die ou kas se venstertjies. “Pleks van ’n muur vol kombuiskaste het ek net een meubelstuk gekies. Dis die perfekte uitstalplek vir my Royal Albert-eetservies – ’n geskenk van my ma.” Sy bêre ook al die silwergoed wat sy oor die jare bymekaargemaak het, daarin. Die kas is met Annie Sloan Old White geverf.

Die eetkamertafel uit die 1920’s is ’n erfstuk en die stoele is oor die jare tweedehands gekoop. Die Afonso’s het die kandelaber by ’n skrootwerf opgetel.

’n Helder visie

“Die mat was net só onprakties,” sê Ramona. “Ons wou al jare lank daarvan ontslae raak, maar ons was oortuig daar is ’n onafgewerkte sementvloer daaronder. Tot ons verbasing ontdek ons toe dieselfde lelike ou teëls as in die kombuis – en dis hoe die opknap begin het.

“Ons het ’n professionele bouer ingekry om ’n ongemaklike halfronde muur tussen die kombuis en eetkamer uit te breek, ’n deur in die kombuis toe te bou en die plafon te vervang. Daarna het ’n elektrisiën nuwe bedrading vir die ligte en elektriese punte geïnstalleer. Die res kon ons self saam met ’n nutsman doen.”

Ramona, wat haarself as ’n “winskoop-koningin” beskryf, het ’n helder visie vir die ruimte gehad: “Ek wou iets hê met ’n industriële styl – met ’n tikkie plaashuis-sjiek daarby.” Toe gaan snuffel sy deur die motorhuis, waar sy haar tweedehandse vondste bêre tot tyd en wyl sy nut daarvoor kry. “Deesdae staan my kar maar buite,” sê sy met ’n glimlag.

“Ramona is g’n winskoop-koningin nie,” sê Nuno. “Sy’s ’n opperste winskoop-jagter!” Maar danksy sy vrou se fyn oog vir ’n winskoop was hul opknap ’n voorbeeld van hoe jy ’n ruimte kan mooimaak op ’n begroting.

Nadat die bouer die mure uitgebreek het, het die werk aan die kombuiskaste begin. “Die voorkante was PVC Wrap, wat beteken die deure is letterlik met PVC oorgetrek. Ek het dit als met ’n strykyster afgesmelt, die karkasse herrangskik en houtstroke op die voorkante aangebring om die plaastema te versterk,” verduidelik Ramona. Daarna het ’n vars laag verf gevolg.

Die boonste kassies is afgehaal en gebruik om een groot kas in die spens te bou; bo-op dit het Nuno rakke ingesit wat op loodgieterspype rus.

Nuno tel die mat op – en ontdek nog teëls!

Die wasbakkas was eers ’n buffet en was ’n geskenk van een van Ramona se niggies. Dis aangepas om ’n wasbak en kraan te huisves.

Giet ’n wenner

Die sement-werkoppervlakke is Afonso se trots! Nadat hulle 2016 se Regruk met Flair-wenners, Andrew en Victoria Zekveld van Pietermaritzburg, se projek gesien het, het Nuno en Ramona besluit om hul eie blaaie te giet. Hulle het ’n raam rondom die bestaande gelamineerde blaaie gebou met ’n lip om al die rande. Die vorm is met silikoon verseël om dit waterdig te maak en te verseker die uiteindelike sementblad het ’n gladde afwerking.

Voor hulle die sementmengsel gegiet het, het hulle A. Shak Plasterkey, ’n bindmiddel, oor die bestaande blaaie aangewend en maasdraad neergelê – dit keer dat die sement kraak. Die sement-mengsel het bestaan uit een deel klipgruis, een deel sand en een deel sement gemeng met water; dié mengsel is 6,5 cm dik gegiet.

Die eindresultaat was ’n wenner, maar daar was net een haakplek: Saam met die ou blad onder was die totale dikte van die nuwe werkvlakke nou 10 cm; die passtuk vir die uittrekkraan was dus te kort. “Ons moes ’n ingenieur opspoor wat ’n lang genoeg passtuk kon maak wat van onder af vasgeskroef kon word,” verduidelik Nuno. “Dit was duurder as die kraan self!”

Dis in die detail Die plakpapier agter die rak in die spens, ’n afdruk van ou blou-en-wit Mediterreense teëls, was ’n geskenk van vriende in Malta.

Die kas met die glasdeure en gordyne is al nuwe eenheid in die kombuis. Die hanglampe is twee jaar voor die opknap gekoop en gebêre tot die projek klaar was.

Op die vloer

Die kombuisvloer is ’n kombinasie van herwinde houtblokkies en swart-en-wit sementteëls. “Die blokkiesvloer is loshande my gunsteling-element,” sê Ramona. “Dis ook ’n legendariese winskoop: Dit kom uit ’n woonstelblok wat gemoderniseer is; hulle sou dit weggooi, toe maak ons vir die eienaar ’n aanbod – vir net R3 000 het ons 200 m² gekoop, wat genoeg was vir die hele huis se vloere!”

’n Kontrakteur het die blokkies in ’n visgraatpatroon gelê en die Afonso’s het dit self geskuur en verseël om geld te bespaar. “Dit was die goorste deel van die projek; ons het geen idee gehad waarvoor ons ons inlaat nie. ’n Kenner sou die helfte van ons hele begroting gekos het, maar as ek enigiets kon oordoen, is dit die een ding waarvoor ek sou spaar,” sê Ramona.

Sy en Nuno het twee hele dae tot saans laat aan die vloere geskuur (en weer geskuur). “Ons was oortrek van die rooi stof! Die vloere is ver van perfek, maar eintlik hou ek van die effens verweerde voorkoms. Ons sal die vloere eendag professioneel moet laat oordoen.”

Ná net drie weke kon die Afonso’s die vrugte van hul harde werk pluk. “In daardie stadium was ons nuwe oopplan-kombuis so te sê klaar; die finale afronding is oor die volgende paar naweke voltooi,” sê Ramona.

“Ek hou nie van ’n deurmekaarspul nie,” onthou Nuno. “Maar in dié geval was dit alles die moeite werd.

V&A met Ramona en Nuno Watter lesse het julle hier geleer wat julle in toekomstige projekte sal inspan? Ons sal die mure met RhinoLite pleister; dit gee ’n baie beter afwerking. En belangrikste van als, ons sal nie die blokkiesvloer self skuur nie!  Enige geldspaarwenke? Soek vir die beste prys en vra vir produkte met ’n B- of A-minus-gradering – dit kos aansienlik minder en die defek is amper altyd onmerkbaar. Snuffel rond by skrootwerwe vir vondste soos ons kristalkandelaber; ons het dit vir net R500 gekry! Wat is jul beste raad? Moenie toegee op dié elemente wat jou visie sal verwesenlik nie; soms moet jy net vasbyt en koop wat jy regtig wil hê – dit sal jou dalk baie uit die sak jaag, maar jy sal dit nog vir jare geniet.

Uit hul notaboek

Harde werk – en winskope – hak op die ou end die knoop deur!

Die meeste van die kaste is hergebruik; die smal bo-kaste staan nou onder die nuwe rakke in die spens.

’n Vreemde halfronde muur het eers die oorspronklike kombuis van die eet- en sitkamer geskei (bo). Dit is uitgebreek om een groot oopplanarea te skep.

1. Dié foto ui die Junie 2014-uitgawe van Tuis was die inspirasie after die ongepleisterde muur tussen die kombuis en die spens.

2. Ramona het die balk bo die deur vir net R20 op ’n sloopwerf gekry; dit kom van ’n ou skuur.

3. Met die houtstroke klaar op die kasvoorkante kon die verfwerk begin – maar eers moes die spatpaneel geteël word!

4. Nadat ’n spesiale passtuk vir die mengkraan gemaak is, moes Nuno self onderin die kas klim om dit te verbind.

Koste

Bouer R15 000
Boumateriaal R6 000
Stutte R300
Laboratoriumwasbak R500
Timmerwerk en hout R4 000
Elektriese werk (nuwe leipyp) R2 000
Herwinde houtblokkies R3 000
Lê van blokkiesvloer R5 000
Skuur en verseël (vloere) R2 000
Sementteëls R1 500
Kandelaber R500
Verf (hele huis) R3 700
Mengkraan in spens R800
Kombuis-mengkraan R2 200
Pyprakke R1 200
Seëlaar vir sement- werkblaaie R250
Metroteëls R80
Teëllêer R1 700
Vintage-kas R3 000

Totaal: R52 730

Die afwerking
  • Sement-vloerteëls Union Tiles (011 663 2000, uniontiles.co.za)
  • Pyprakke Aluminium Flanges (083 741 2739, aluminiumflanges.co.za)
  • Mengkrane en metroteëls Cedar Rama (011 622 2860)
  • Verf Mure: Plascon Silk Chiffon; kaste: Plascon Velvaglo French Chartreuse
  • Handvatsels en skarniere Gelmar (010 591 7430, gelmar.co.za)
  • Plafonrose Builders (0860 008 903, builders.co.za)
Jongste uitgawe

Julie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees